Die moordenaar van ’n skraal korthaarvrou, vermoedelik in haar veertigs, het haar met soveel geweld met ’n stomp voorwerp in haar gesig geslaan dat gemeenskapslede wat op die halfnaakte lyk in die veld oorkant die Laaiplek Hotel se ingang afgekom het, haar vir ’n man aangesien het.

Die polisie kon ook vasstel dat sy gewis nie by die ou put waarop motors herstel kan word, vermoor is nie, want die groot hoeveelheid bloed wat met sulke kopwonde gepaardgaan, was nie op die toneel te sien nie.

Net die rommel waarmee die moordenaar probeer het om die lyk mee toe te pak, het daar rondgelê.

Volgens kapt. Tania Helfrich is die onbekende vrou se lyk vermoedelik daar versteek. Met haar tingerige, vormlose lyf en deels ontbinde gesig het selfs die polisiebeamptes wat na die toneel uitgeroep is nadat verbygangers die lyk ontdek het, aanvanklik gedink hulle het met ’n manlike slagoffer te doen.

Die vrou, wat net in ’n swart denimbroek geklee was, het ’n sak oor haar kop en draad om haar nek gehad.

’n Lykskouing sal bepaal wat haar dood veroorsaak het.

Helfrich sê dat die vrou geen ooglopende byt- of krapmerke aan die haar liggaam gehad het soos in die geval van die twee vrouelyke wat vanjaar in Saldanha gekry is nie.

Veiligheidsbeamptes het Fillda Vaughan (34) se lyk Donderdag 18 Mei op die strand by Tabakbaai, Saldanha, gekry. Sy is luidens die lykskouingsverslag verwurg, maar het ook veelvuldige beserings aan haar lyf gehad, waaronder ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer. Niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie.

Sondag 5 Augustus het inwoners op Mirriam Cloete (43) se naakte lyk agter ’n plakkershokkie in Govan Mbekistraat in Middelpos afgekom. Sy het krapmerke aan haar linkeroor en nek gehad.

Ook dié moord is nog onopgelos.

Die polisie van Saldanha en Laaiplek verbind nie die moorde in hierdie stadium met mekaar nie.

Vingerafdrukke is van die Laaiplek-slagoffer geneem, en dit sal hopelik lig op haar identiteit werp, maar dit kan “etlike weke duur”.

Volgens die Laaiplek-polisie se rekords is niemand met die oorledene se beskrywing as vermis aangemeld nie.

. Kontak die ondersoekbeampte, speursers. Emilio Benjamin, by 079 893 9839 of 022 783 8027 of Stop Misdaad by 08600 10111 met enige inligting om die polisie te help om die moordenaar vas te trek en die vrou te identifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article