Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) is bekommerd oor die toenemende voorvalle van teistering van Kaapse pelsrobbe langs die Suid-Afrikaanse kus.Foto: Weslander-argief


In dieselfde asem wat die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) sy bekommernis oor toenemende voorvalle van teistering van Kaapse pelsrobbe langs die Suid-Afrikaanse kus vandeesweek uitgespreek het, is ’n 15-jarige seun op Elandsbaai betrap waar hy twee robbe met klippe doodgeslaan het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is hy op Woensdag 15 November by die twee dooie robbe op die strand gekry, en het hy aan polisiebeamptes erken dat hy hulle doodgemaak het. Hy het vandag (Vrydag 17 November) in die Piketberg-landdroshof verskyn.

DFFE het sy bekommernis in ’n mediaverklaring uitgespreek oor robvoorvalle waarin honde toegelaat is om rustende robbe te nader en aan te val; klippe na robbe gegooi is; robbe uitgelok is om mense vir sosialemediabeeldmateriaal te jaag; robbe met stokke geterg word vir fotogeleenthede; kanovaarders wat robbe met spane slaan; mense wat robbe vir geldelike gewin voer om voorsiening vir fotogeleenthede met die rob te maak; en ’n beweerde verdrinking van twee robbe deur lede van die publiek.

Die departement herinner die publiek daaraan dat die Regulasies vir Bedreigde of Beskermde Mariene Spesies (2017), robbe as ’n beskermde spesie lys. Daarom is hierdie soort interaksie en ook die voer van robbe gevaarlik vir die betrokke mense en robbe, maar is dit ook verbode en ’n kriminele oortreding.

Die departement het onlangs saam met die dierebeskermingsvereniging (DBV) gewerk om in Khayelitsha vier individue daarvoor skuldig te bevind en te vonnis wat aangekeer is omdat hulle ’n rob tot sy dood gestenig het.

“Kaapse pelsrobbe is wilde diere en hulle kan onvoorspelbaar aggressief teenoor mense word, veral wanneer hulle geteister word, wat ernstige beserings tot gevolg het.”

Die departement beklemtoon dat die genoemde voorvalle as teistering beskou word en dus ’n kriminele oortreding ingevolge die voorgenoemde regulasies is, en gevaarlik is vir die publiek en vir die robbe is.

Daar is maatreëls in plek om enige beseerde rob te rehabiliteer of mediese sorg te verskaf, en die publiek word uitgenooi om enige voorval by die polisie, die departement of die DBV aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article