Die somber toneel waar Aiden se lyk uitgespoel het.Foto: Madelie van Tonder


Die ma van ’n 14-jarige seun, wat verlede week in die see by Laaiplek verdrink het, het net geweet dat sy lyk in die kolkende watermassa naby die hawemond is – nie noord van die ou Pelikaan-vakansieoord, waar Aiden Mouton en ’n maat Woensdag 15 November in die see gaan swem het nie, maar suid daarvan.

Die somber toneel waar Aiden se lyk uitgespoel het.Foto: Madelie van Tonder

Die soektog na Aiden is vir vyf dae in ’n noordelike rigting, Dwarskersbos se kant toe, gefokus ten spyte van sy ma, Dina Claasen, se pleidooie dat daar in die rigting van die hawemond gekyk moet word.

Die twee seuns van Noordhoek het gaan swem omdat dit ’n besonderse warm dag was. Wat hulle nie geweet het nie, was dat die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) dieselfde dag nog ’n waarskuwing uitgestuur het oor ’n springgety aan die Weskus, wat erge sleurstrome veroorsaak het.

Apostel André Marcus, ’n woordvoerder vir die gesin, sê Dina het elke dag op die plek voor die ou vakansieoord, waar Aiden deur die water meegesleur is, gestaan en smeek dat die see asseblief haar kind vir haar sal teruggee. Net soos wat sy presies dertien jaar gelede, op 14 November 2010, op die rand van ’n plaasdam op die plaas Volstruisvlei gestaan het nadat Aiden se sussie, Jaydene (7), daarin verdrink het.

Die see het Aiden se lyk Maandag omstreeks 12:00 by die hawemond uitgespoel.

Aiden Mouton (14).

Nadat die buurtwag, wat help soek het, hulle laat weet het dat ’n lyk uitgespoel het, is Marcus en sy vrou, Sarie, saam met Dina en Aiden se pa, Andries Mouton, na die strand. Die toneel was reeds afgebaken met hul aankoms en die forensiese span het sy lyk reeds met plastiek toegemaak. Sy ouers het hom daar uitgeken.

Aiden se ouers was streng daaroor dat hy nie in die see mag gaan “voete natmaak” nie, want hy kon nie swem nie en hulle ag die see as gevaarlik.

Die Moutons het verlede jaar ook hul oudste dogter, Judith (25), ná ’n siekbed aan die dood afgestaan.

Aiden het elke dag ná skool vir sy drie kleiner boeties, AJ (13), Mario (10) en Josua (2), en sy oorlede suster se kinders, Jaydene (10), Joy (7) en Faith (5), gewag sodat hy kon seker maak dat die hele groepie veilig by die huis aankom. Hy was ’n gr. 6-leerder by Noordhoek Primêr.

Nooddienste en forensiese patoloë op die toneel waar die lyk van die tiener, wat vroeër die week in die see verdrink het, uitgespoel het.Foto: Madelie van Tonder

HOOFFOTO: Nooddienspersoneel van West Coast Medical Rescue en seeredding op die toneel waar ‘n 14-jarige seun in die see vermis geraak het.Foto: West Coast Medical Rescue

Die verantwoordelike en kunstige kind se ouers kry nog baie swaar, sê Marcus. Wat hulle deur hierdie trauma dra, is die mense van Noordhoek, Laaiplek en Velddrif se omgee.

Aiden word volgende week begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article