Die winkels, sakeondernemings en selfs skole en kleuterskole is vol helderkleurige versierings. Dit is duidelik dat die feestyd om die draai is.
Die jaarlikse Weskus Toy Run wat altyd aan die einde van November gehou word, kan ná Sondag 26 November nou ook afgemerk word. Dit is ’n reuse-insameling vir behoeftige kinders wat meestal op speelgoed vir Kersdag fokus, maar ook persoonlike artikels en skryfbehoeftes insluit. So is daar verskeie veldtogte wat in die feestyd na minderbevoorregtes uitreik. Kospakkies word uitgedeel, ’n sny koek op Kersdag gegee . . . Alles om ’n glimlag op ’n kind of bejaarde se gesig te plaas op dié dag wat histories met geskenke en samesyn gevier word.
Dit is egter ook die seisoen waarin selfdood hoogty vier. Mense voel eensaam, soms omdat hul eie dade veroorsaak het dat hul familie nie meer iets met hulle te doen wil hê nie. Ander kere, veral met depressielyers, kan mense tussen ’n klomp mense eensaam voel. Eenkant, afgesonder terwyl die klappers om hulle klap en hulle geskenke oopmaak.
Wees dié feestyd op die uitkyk vir die stilles, dié wat glimlag, maar nie om die oë nie. Die wat ’n eerste Kersfees sonder hul steunpilaar moet deurmaak, of net nie kans sien vir die onbekende in die nuwe jaar wat ná al die vieringe wag nie. Gee werklik om. Dit is dalk al wat dit verg om ’n ramp te vermy.



