In ’n vreemde sameloop van omstandighede is ’n vermeende vroueslaner, ene “Thabang” (22) van die Riebeek Kasteel-omgewing, Sondag 3 November deur familie en vriende van sy slagoffer doodgesteek.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. Tania Helfrich, het “Thabang”, wie se van nog onbekend is, na bewering Sondagoggend omstreeks 02:00 weer sy meisie aangerand.

Sy het na haar broer se huis gevlug en hom van die voorval vertel.

Deromian Esau (18), Jarius Micheal (26), Riaan Pietersen (21) en Lorenzo Sass (20) het glo hierop na “Thabang” gaan soek en hom tot by ’n sjebien gejaag, waar hy na bewering met messe doodgesteek is.

Die beskuldigdes het Dinsdag in die Riebeek-Wes-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Die polisie het “Thabang” se lewelose liggaam agter in die sjebien gekry nadat hulle van die voorval in kennis gestel is. Die afgelope naweek is verskeie aanklagte van geslagsgebaseerde geweld (GBV) by polisiekantore aan die Weskus aangemeld:. Brendon Derby (30) het Maandag (4 Desember) in die Laaiplek-landdroshof verskyn nadat hy na bewering sy 22-jarige eksmeisie Saterdagoggend om 04:00 aangerand en haar selfoon stukkend gegooi het.. Daniel Willemse (26) van Lutzville se 24-jarige meisie het ’n saak van aanranding teen hom aangemeld nadat die twee glo oor ’n sleutel stry gekry en hy haar na bewering aangerand het. Willemse het Maandag (4 Desember) in die landdroshof verskyn.. Sandiso Ntsiba (32) van Vredenburg het glo sy 33-jarige meisie Saterdag­oggend (2 Desember) om 01:15 só aangerand dat sy gapende wonde aan die gesig opgedoen het. Ntsiba het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.. ’n Vredenburgse broer het sy suster na bewering Saterdagmiddag aangerand. Shadley Daniels (30) het omstreeks 12:30 by die huis aangekom en sy suster vir kos gevra. Hy het aggressief geraak en haar glo met die vuis in die gesig geslaan. Daniels het Dinsdag (5 Desember) in die hof verskyn.. Nqobile Ngubane (32) het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy Saterdagmiddag glo ’n 25-jarige vrou in die dorp aan haar hare rondgeruk het omdat sy nie saam met hom wou huis toe gaan nie.. Willem Tieties (36) het glo sy 34-jarige vrou Sondagmiddag (3 Desember) in Lutzville só erg aangerand dat sy en die kinders moes vlug. Tieties se vrou was besig om middagete te maak toe hy daar aankom en moeilikheid maak. Tieties is aangekeer en het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.. ’n Vrou (23) van Saldanha is na bewering ook Saterdag (2 Desember) deur haar kêrel rondgestamp en aangerand. Sy het glo met haar agt maande oue baba omstreeks 15:00 by sy huis in Angelstraat aangekom. Franko Dwashu (23) het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding.. In nog ’n voorval in Saldanha het ’n 22-jarige meisie ’n saak van aanranding teen Eben Williams (22) aangemeld omdat dié haar na bewering Sondagaand (3 November) aangerand het. Hy het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.. Cassie Steyn (61) van Riebeek-Wes het Maandag in Malmesbury-landdroshof verskyn nadat hy glo Woensdag 29 November sy 44-jarige vriendin in die vroeë oggendure aangerand het.. Andries Gouws (63) van Klawer is aangekeer en het Maandag in die landdroshof verskyn nadat hy Vrydagaand na bewering ’n 81-jarige vrou in die gesig geskop en geslaan het.. Bongisa Nyangintaka (23) het ook Maandag in die Klawer-landdroshof verskyn nadat hy glo sy 25-jarige meisie op verskeie geleenthede aangerand het.. In Klawer het ’n rusie oor ’n glas veroorsaak dat die 45-jarige Lionel Fransman aangekeer is op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Fransman en ’n 49-jarige vrou het na bewering stry gekry oor ’n glas waaruit sy wou wyn drink. Fransman wou glo opsluit ook uit dié glas drink. Die vrou het hom naderhand met die glas gegooi, waarop Fransman dit opgetel en die vrou na bewering in die nek gesteek het. Sy moes mediese behandeling ontvang. Fransman het Maandag in die Klawer-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article