Genl.maj. Sizakele William Dyantyi, distriksbevelvoerder vir die Weskus


Terwyl “gewone” polisiemanne of -vroue elke maand die sente moet omdraai om ’n blyplek te huur of af te betaal, betaal die bevelvoerder van die Weskus-polisiedistrik nie ’n dooie sent vir sy luukse hotelverblyf nie.

Volgens Ian Cameron van Action Society, wat verlede week die bom oor dié kwessie op sosiale media laat bars het, beloop genl.maj. Sizakele William Dyantyi se rekening sowat R57 000 per maand by die Saldanhabaaihotel.

Sy verblyf sluit ook gratis Wi-Fi saam met 24-uur-sekuriteit, ’n restaurant, ’n swembad, ’n wasgoeddiens, ’n minigholfbaan en ’n spa in – en dít terwyl polisiebeamptes by die Saldanha-polisiekantoor, waar Dyantyi se span ook gehuisves word, meestal sonder eenvoudige kantoorbehoeftes soos toiletpapier en drukkerpapier moet klaarkom.

Volgens Ronél Stander, openbaresektororganiseerder by Solidariteit, bepaal die polisie se hervestigingsbeleid, Nasionale Instruksie 9 van 2016 (weergawe 2), die hervestigingskoste van polisielede. Daarvolgens word tussentydse verblyfuitgawes beperk tot ’n maksimum van twee kalendermaande met ’n verlenging van nie meer as ses maande nie. Ingevolge Regulasie 24(1)(c) van die Regulasies vir die Suid-Afrikaanse Polisie verbeur ’n polisielid sy of haar hervestigingskoste as hulle nie binne twee kalendermaande of ’n ooreengekome ses maande die opdrag om te hervestig, uitvoer nie.

Dyantyi bly reeds vyftien maande – sedert Augustus 2022 – in die hotel.

Hy het met sy “tydelike” aanstelling as distriksbevelvoerder van die nuutgevormde Weskus-distrik aan Weslander aangedui dat hy en sy gesin sal oorweeg om later na die Weskus te verhuis. Hy sou pendel tussen die Weskus en Kaapstad, waar sy vrou, Lindiwe Dyantyi, die bevelvoerder van die Tafelsig-polisiekantoor was.

Genl.maj. Dyantyi se vorige pos was dié van groepsbevelvoerder van Mitchells Plain en Nyanga.

Lindiwe is egter twee maande later tot brigadier bevorder en as stasiebevelvoerder by die Mitchells Plain-polisiekantoor aangestel – ’n pos waarvoor sy spesifiek aansoek gedoen het, volgens mediaberigte oor haar aanstelling. Twee maande later, in Desember, is sy as stasiebevelvoerder na die Nyanga-polisiekantoor verskuif, waar sy nou nog is.

Dit laat twyfel of die Dyantyi’s werklik van plan was om Weskus toe te verhuis.

Die Wes-Kaapse polisie het nog nie die vraag oor of sy vir haar eie verblyf betaal, beantwoord nie, maar het gesê die navrae is “geëskaleer”.

Stander het gesê dit is alombekend dat die polisie vroeër vanjaar streng besparingsmaatreëls ingestel het.

“Daar is nie geld vir oortyd nie; daar is nie geld om goed te laat herstel nie of nuwes aan te koop nie. Beamptes moet hul daaglikse werk doen sonder die basiese hulpbronne, want ‘daar is nie geld nie’.”

Sy het verwys na polisielede wat met koeëlvastebaadjies wat uitmekaar val, moet werk en die feit dat polisielede hul private selfone moet gebruik om polisiewerk mee te verrig, want daar is “nie geld” vir ’n behoorlik funksionerende radiostelsel in die Wes-Kaap nie.

Nog ’n kwessie rakende Dyantyi, volgens Stander, is sy ongehoorde mag om te besluit watter polisielede in sy distrik oortyd betaal word, ongeag wat stasiebevelvoerders, wat hul lede en die omstandighede op hul stasies ken, versoek. Dyantyi besluit glo wie op die oortydbetalingslyste mag wees en wie nie.

“Dit is onaanvaarbaar en nie vir ’n oomblik die doel van sy pos nie. Stasiebevelvoerders ken hul lede, weet wie betroubaar en toegewyd is, en wie deurentyd beskikbaar is vir oortyddiens, selfs al is daar nie oortydgeld beskikbaar nie.” Stander meen hierdie soort besluit moet in die hande van stasiebevelvoerders gelaat word.

Die Wes-Kaapse polisie by monde van brig. Novela Potelwa se reaksie oor die aangeleentheid lui egter dat Dyantyi aangestel is “in belang van die Weskus-gemeenskap”.

Die Weskus-polisiedistrik, wat in 2022 gevorm is, sluit 25 plaaslike polisiekantore in, waaronder Vredenburg, Saldanha, Langebaan, Hopefield, St Helenabaai, Laaiplek, Malmesbury, Piketberg, Porterville, Moorreesburg, Darling, Eendekuil, Riebeek-Wes, Redelinghuys, Vredendal, Clanwilliam, Citrusdal, Nuwerus, Lambertsbaai, Lutzville, Elandsbaai, Vanrhynsdorp, Klawer, Graafwater en Doringbaai. Die inwoners van dié dorpe is oorwegend Afrikaanssprekend.

Stander benadruk dat genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, en Dyantyi persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir die uitgawe van R969 000 per jaar. “Dit is absoluut onaanvaarbaar.”

Potelwa het in die enigste reaksie wat Weslander van die Wes-Kaapse polisie op verskeie versoeke om kommentaar gekry het, gesê Dyantyi se aanstelling was ’n “interne operasionele besluit” wat “nie ligtelik geneem is nie”. Dit is gedoen “uit oorweging vir die gemeenskappe van die Weskus, in die belang van dienslewering”.

Weslander het Dyantyi genader om sy persoonlike kommentaar, maar hy het die navrae na die provinsiale kantoor verwys omdat dit handel oor “organisasie”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article