Terwyl die meeste Weskussers gedurende die feesseisoen daarop uit was om te ontspan en saam met geliefdes te kuier, was ander nie so gelukkig nie, en sal hulle nooit weer ’n feesseisoen beleef nie.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder is Degenet Eyob Lada, ’n 24-jarige Ethiopiese burger, op Kersdag 25 Desember om 00:15 in sy winkel in Tulpstraat, Noordhoek, doodgeskiet.

’n Onbekende hoeveelheid kontant, sigarette, eetgoed en selfone is tydens die insident geroof.

Deone Mekeur (25) van Moorreesburg het op Woensdag 27 Desember in die landdroshof verskyn op aanklag van moord nadat sy Lodewikus Swarts, haar 25-jarige kêrel, na bewering met ’n mes doodgesteek het. Swarts, wat as ’n jeugdige aan dwelmverwante sake skuldig bevind is, het op 22 Desember om 23:23 haar na bewering met die vuis in die gesig geslaan en met haar oor kos baklei.

Mekeur het hierop glo ’n mes gevat en hom in die nek daarmee gesteek. Sy is hierna in hegtenis geneem.

Dieselfde dag om 07:15 is Mawethy Oscar Vellem (42) dood in sy blyplek in Tsitsiratsitsi, Vredenburg, met skietwonde aan sy skouer en maag op sy bed gekry. Vellem was al ’n paar keer skuldig bevind aan die verbreking van ’n beskermingsbevel en opsetlike saakbeskadiging.

Twee vermeende sakerowers van Klawer, Jacques de Wee (29) en Percival Phillips (36), het op Dinsdag 2 Januarie in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn nadat hulle op Saterdag 30 Desember om 16:30 twee mans in ’n kafee in Volstruissingel na bewering met messe gedreig en geld geëis het.

Altesame R3 000 is gebuit voordat hulle in hegtenis geneem is.

In Porterville het ’n 50-jarige vrou ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer gemaak teen Gert Klaase (50), haar lewensmaat van 30 jaar.

Klaase het die klaer van 17-22 Desember na bewering gedurig met ’n sambok aangerand en met ’n mes gedreig. Hy het op Woensdag 27 Desember sy eerste verskyning in die hof gemaak.

Skote uit haar kêrel se vuurwapen het ’n 37-jarige vou van Middelpos in Saldanha net-net gemis.

Die kêrel, Xolisa Twala (25), het glo die vuurwapen op haar gerig en begin skiet. Die vrou het glo op Woensdag 27 Desember om 18:40 by haar kêrel se huis in Marikana, Middelpos aangekom, maar die veiligheidsdeur was gesluit en Twala het geweier om dit oop te maak.

Die vrou het ’n ander vrou in die slaapkamer gewaar en vir Twala gevra om haar persoonlike goedjies aan te gee, waarop Twala glo ’n vuurwapen uitgehaal en op haar begin skiet het. Sy het ongedeerd weggehardloop.

Die vrou het geglo dat die vuurwapen wat Twala gebruik het ’n regte vuurwapen was, maar met sy inhegtenisneming is egter bevind dat hy ’n nagemaakte vuurwapen gebruik het.

Twala het reeds op Donderdag 28 Desember in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article