William en Robert aan die einde van Die Brug.Foto:


Die Vredenburg-inwoner William Walters het net-net die kans misgeloop om as wenner van die realiteitspeletjiesprogram Die Bruggekroon te word.

Op die laaste dag, nadat hulle die brug klaar gebou het, het ’n verrassing by die houthuis vir hulle gewag wat biefstuk, kaaskoek, bier en ander lekkernye ingesluit het. Die olifant in die vertrek was egter die groot keuse waarvoor almal gestaan het.

Geo Botha het die laaste brief voorgelees: “Vandag gaan net een van julle oor die brug stap om die skat te vat. Wie is die mees waardige persoon? Wie verdien jou stem? Onthou, wie ook al die skat op die eiland vat, kan alleen besluit hoe om die geld te deel of nie. Jy mag nie vir jouself stem nie. Sterkte.”

William se idee van ’n paar dae vroeër is toe uitgevoer, en elkeen van die sewe spelers moes motiveer hoekom hulle verdien om die wenner te wees.

Aan die einde van episode 11 het Robert Kruger as wenner oor Die Brug gestap na die wengeld, maar was tot die laaste oomblik onseker wat sy besluit gaan wees. Sy gesin het uiteindelik vir hom eerste gekom, en hy het besluit om die wengeld te hou, behalwe vir die R50 000 wat hy en Geo elk vroeër in die speletjie gekry het. Robert het daardie R50 000 aan William geskenk.

William deel met Weslander dat hy baie dankbaar teenoor Robert is vir dié geld wat aan hom gegee is. William vertel dat hy aan die einde gepraat het en met die deelnemers gedeel het wat hy met sy geld sou doen en glo die woorde het by Robert gebly, dus sy besluit.

“Ek dink Robert het gevoel dat dit die regte ding was om te doen. Ek is so trots op hom dat hy die wenner van Die Brug is.”

William vertel sy reis met Die Brug het hom nader aan homself gebring.

“Ek het meer bevestig in myself dat die klein dingetjies in die lewe wel saak maak,” sê hy.

Die hele ervaring van Die Brug was vir William een van die grootste geleenthede in sy lewe.

“Ek is net so dankbaar vir die produksiespan wat my gekies het en vir wat hulle in my raakgesien het. Ek het nuwe hoop, meer selfvertroue as wat ek vantevore gehad het en ek praat met meer selfversekerdheid. Ek is positief oor wat die toekoms vir my inhou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article