’n Raadslid het glo vroeg vandeesmaand ’n klap gekry toe hy die moeite gedoen het om sy “wettige toesigrol” te vervul.
Drie klagtes van aanrading is in Lambertsbaai by die plaaslike polisie aangemeld ná ’n voorval by die plaaslike gholfklub op 2 Januarie.
Die Cederberg-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, dr. Ruben Richards, het in ’n verklaring bevestig Lambertsbaai se wyksraadslid dr. John Hayes en Speaker van die raad is op 2 Januarie deur ’n mederaadslid en ’n munisipale werker by die plaaslike gholfklub aangerand.
Hayes het glo gaan inspeksie doen nadat bewerings aan die lig gekom het dat alkohol sonder die nodige lisensie verkoop word.
“Ek wil bevestig dat raadslid John Hayes binne sy regte opgetree het en sy plig sonder vrees, guns of vooroordeel uitgevoer het toe hy sy toesigfunksie as wyksraadslid uitgevoer het.
“Dit bly die reg en plig van ’n raadslid om enige munisipale gebou/fasiliteit te inspekteer, veral wanneer beweer word dat sodanige perseel lisensies het om ’n besigheid te bedryf.
“Wat sake rakende dranklisensies betref, vereis die wet dat wyksraadslede ekstra waaksaam moet wees,” lui Richards se verklaring.
Na bewering is met Hayes se besoek geen dranklisensie vertoon, soos deur die wet vereis, nie.
Blykbaar het Hayes toe vasgestel die betrokke lisensie was glo gebrekkig.
Die besoek het sommige onthuts gelaat en Richards beweer Hayes het “amper sy lewe verloor” toe hy na bewering byna omgery en toe deur ’n mederaadslid, Josef Farmer, en ’n familielid, wat ook in diens van die munisipaliteit is, aangerand is.
By navraag het ’n Weskus-polisiewoordvoerder, kaptein Tania Helfrich, bevestig twee sake van aanranding is ná ’n voorval by die plaaslike gholfklub geopen.
Farmer beweer Hayes het sy broer se voertuig beskadig en dat die Speaker hom toe gestamp het. Na bewering het Hayes ’n foto van die dranklisensies geneem en Farmer het sy oom geroep.
Die oom het glo toe vir Hayes ’n klap vir sy moeite gegee.
Hayes het ook ’n derde saak van aanranding aangegee.
“Albei sake is op 4 Januarie na die senior staatsaanklaer in Clanwilliam gestuur vir beslissing,” het Helfrich bevestig.
Dit blyk egter sommige inwoners het nie veel simpatie met Hayes nie en meen dit was nie sy plek om die toesigwerk van wetstoepassers te doen nie.
Richards het op sy beurt gesê dié voorval “belig sommige van die uitdagings wat ons waarskynlik vanjaar sal teëkom, aangesien ons fokus op ‘die skoonmaak van die administrasie’ ”.
Hy meen die munisipaliteit het deur ’n tydperk van disfunksie gekom en is in die proses om te stabiliseer, en goeie bestuur en skoon administrasie is daarom ononderhandelbaar. . Weslander het die Cederberg-munisipaliteit vir bykomende kommentaar gekontak, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.




