Gesinslede van ’n man wat by Trekoskraal naby Paternoster gaan vis skiet het en nie Dinsdagaand (6 Februarie) weer huis toe gekom het nie, het die volgende oggend op sy lewelose liggaam op die strand afgekom.
John Buxton (57), ’n oud-lugmaglid, was steeds in sy duikpak.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Buxton oudergewoonte op Dinsdae gaan vis skiet. Toe hy nie terugkeer nie, het sy familie hom die aand gaan soek, maar kon niks in die digte mis kry nie.
Hulle het hom die volgende oggend gekry, en Helfrich het bevestig dat geen onraad vermoed word nie.
Buxton het verlede jaar uit die lugmag getree en was op pensioen. Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging het ook hul simpatie teenoor sy familie met sy heengaan op Facebook betuig.
Lees meer in volgende week se Weslander.





