Die slagoffer praat op dié skermgreep met een van die rowers wat hy ná die rooftog teruggeroep het.


In ’n video wat wyd op sosiale media gedeel is, word ’n 14-jarige kind in skoolklere Dinsdagmiddag (6 Februarie) ná skool in Waterkantstraat, Vredenburg, oënskynlik deur twee mans beroof.

’n Veiligheidsvideo wys waar die kind omstreeks 14:30 van regs na links op die skerm in die straat stap. Hy word dan deur twee jong mans genader, wat hom laat omswaai, en dit lyk asof hy probeer wegkom. Hulle keer hom vas, waarop hy sy selfoon aan hulle oorhandig. Die twee rowers draai dan om en begin rustig van links na regs oor die skerm wegstap.

En hier raak dit ’n bietjie vreemd, want die “slagoffer” roep hulle dan terug en krap in sy sak voordat hy iets aan hulle oorhandig of probeer oorhandig. Die “rowers” draai weer om en stap regs uit die kamera se sig, en die “slagoffer” stap dan ook in daardie rigting – die teenoorgestelde rigting as waarin hy aanvanklik op pad was – en verdwyn uit die kamera se sig.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het bevestig die Vredenburg-polisie ondersoek dié vreemde verloop van omstandighede en ’n klag van roof.

Die slagoffer beweer die twee jong mans was met ’n mes gewapen en hulle het benewens die selfoon ook R30 by hom gebuit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article