Ná nege jaar by Weslander verruil die joernalis Yaël Malgas die Weskus vir Stellenbosch in die Boland.

Sy skuif aan na Weslander se susterskoerant Eikestadnuus in haar nuwe pos as senior joernalis.

Yaël vertel graag voordat sy by Weslander begin het, was sy nog net een keer tevore in die Weskus. “Ek het, soos die meeste mense destyds, ’n advertensie vir die pos in die koerant gesien en aansoek gedoen. Ek het die vorige jaar my graad in joernalistiek voltooi. Ek het op ’n reënerige Vrydag in Vredenburg aangekom (my eerste keer in die dorp) vir die onderhoud en twee weke later het ek by Weslander begin,” vertel sy.

Met soveel jare in die Weskus sê Yaël sy gaan die natuurskoon en die min verkeer gewis mis. “Wat Weslander betref, sal ek die span gewis mis. Dit verg ’n sekere soort mens om kop te hou en weekliks ’n koerant uit te gee – daar is onderhoude, sêgoed, situasies en grappies wat sekerlik net binne ’n nuuskantoor oorvertel kan word. Die daaglikse intriges en stories van die Weskussers wat hul verhale met die koerant deel, sal ek ook mis.”

Dit is egter die egte gemeenskapstories wat vir Yaël uitstaan, soos enige gemeenskapsjoernalis sal sê – “nuus wat g’n groot koerant sou dek nie”. Een storie wat sy wel onthou, is die gyseldrama in Witteklip en die storie van Basie. “Basie, wat voorheen in Vredenburg se hoofstraat rondgedans het, is deur sy tannie ingeneem en het met haar hulp floreer.”

Met die nuwe skuif Eikestadnuus toe, sien Yaël uit om nuwe mense se stories te help vertel. “Ons raak so vasgevang in ons eie lewe en dink ons is alleen in ons probleme of suksesse, maar dis nooit waar nie. Ek glo ook dit is die media se werk om Jan Alleman met inligting te bemagtig sodat hulle ingeligte besluite kan neem. Ek sien uit om oor ander ontwikkelings, sportklubs, organisasies ensovoorts te leer. Om ’n joernalis te wees, leer ’n mens baie van die lewe. Jy sien dinge uit die oogpunt van ander.”

Yaël vertel sy het by Weslander geleer dat geen mens belangriker as enigiemand anders is nie. “Of jy ’n kind, burgemeester, onderwyser, sakeman of dwelmverslaafde is – elkeen wat kies om sy of haar storie met jou te deel, verdien respek en moet met waardigheid hanteer word. Ek het hier ook geleer jy drink nie sommer water uit die kraan nie, en die beste manier om bokkoms te eet is saam met ’n bier.”

Talle pryse, maar veral die feit dat sy verskeie kere ’n finalis vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se prys vir rubrieke was, is ’n hoogtepunt vir Yaël.

Om die afgelope paar jaar agter die skerms van Weskus Nuus saam met haar kollega, Murphy Roberts, te kon werk, staan ook uit.

Wat kan die Weslander-span nou sê oor Yaël wat aanskuif?

“Ons wens haar alles van die beste op haar nuwe pad vorentoe. Sy gaan gewis ’n groot leemte los en sal gemis word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article