Die polisie ondersoek ’n moordsaak nadat die liggaam van ’n 61-jarige vrou van Langebaan Sondagmiddag (10 Maart) in haar huis in Sunbird Drive, Myburghpark, ontdek is.
Volgens huidige inligting is die oorledene vermoedelik reeds Vrydagaand (8 Maart) dood.
Die ambulansdiens West Coast Medical Rescue het Sondagmiddag op sy Facebookblad gesê hulle het ’n noodoproep ontvang van ’n inwoner wat hulp ontbied het. Met hul aankoms het hulle een pasiënt geassesseer wat geen teken van lewe getoon het nie. Die toneel is aan die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) oorhandig vir verdere ondersoek.
Die polisie en forensiese deskundiges was Sondagmiddag op die toneel en het die ingang na die huis met geel lint afgesper.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie met hul aankoms op die slagoffer in haar bed afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.
Die motief vir die moord is in hierdie stadium nog onbekend en niemand is al in hegtenis geneem nie.
- Die polisie versoek die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van moontlike verdagtes. Kontak adjunk-offisier Wessenaar by die Langebaan-polisiekantoor by 022 707 5140 met inligting.
*Die berig is aangepas van die oorspronklike berig wat gepubliseer is soos meer inligting bekend geword het, en om amptelike polisiekommentaar by te werk.



