Protect the West Coast se bestuur is (van links) Patrick Forbes (regshoof), Steve Pike (media), Khaya Pullen (sosiale media), Camila Budden (voorsitter), Mike Schlebach (uitvoerende hoof), Miles Masterson (geldinsameling) en die raadgewers prof. Merle Sowman, Gaob Martinus Fredericks en dr. Kruschen Govender. Heel regs staan Jacque Smit (bemarking en ontwerp).


Protect the West Coast (PTWC) stel binnekort ’n nuwe portaal bekend om in sy volgehoue stryd teen onwettige mynbou in die Weskus te help.

Volgens Mike Schlebach, uitvoerende hoof van die PTWC, is hul hoofdoel om die brose natuurlike omgewing te bewaar en om mynbou-geaffekteerde gemeenskappe te ondersteun.

Die portaal wat hulle binnekort beskikbaar gaan stel, gaan die openbaredeelnameproses teen mynprospektering en -regte radikaal vereenvoudig. Die digitale agentskap iBay het die platform ontwikkel.

Gewone burgers sowel as akademici en aktiviste sal hier in ’n paar maklike stappe as belanghebbende en betrokke partye kan registreer, besware teen aansoeke kan indien en selfs ondersteunende dokumentasie kan oplaai.

“Ons innoverende digitale instrument – die eerste van sy soort in Suid-Afrika – sal help om stemme wat roekelose mynbou teenstaan, te versterk en die mynbedryf en regering kennis gee dat ons teen hul ontginning van ons gedeelde erfenis saamstaan.”

Die PTWC se bestuur vir die jaar is ook onlangs verkies en sluit voortaan Gaob Martinus Fredericks van die !Aman Tradisionele Owerheid (RSA) in, wat ’n vurige aktivis vir omgewings- en gemeenskapsgeregtigheid aan die Weskus is.

As die leier van die Nama-stam in Suid-Afrika, bring Gaob Martinus ’n magdom kennis en ervaring, wat van groot waarde vir die PTWC-saak sal wees – veral sy kennis van die mynbou-geraakte gemeenskappe van die Richtersveld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article