Gemeenskapslede van Hopefield het Maandagaand (11 Maart) byeengekom vir die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se eerste vergadering van die jaar.
Hier is die vloer oopgestel vir inwoners om hul griewe te deel, raad te vra en kwelpunte uit te lig.
Kapt. Gotlieb Adams, stasiebevelvoerder van die Hopefield-polisie, het statistieke gedeel oor misdaad in die dorp en veral klem gelê op die styging in gesinsgeweld. Adams het aan aanwesiges by die vergadering gesê hierdie voorvalle kom meer prominent voor waar drank en dwelms betrokke is. Adams het ’n studie gedoen vir die derde kwartaal van Oktober tot einde Desember en vasgestel dat 38 voorvalle van gesinsgeweld in die gemeenskap voorgekom het.
“Twee of drie jaar gelede was daar nie soveel gesinsgeweld in die dorp nie. Dit is moeilik om dit te polisieer omdat dit binnenshuis gebeur en nie op straat nie,” het Adams gesê.
Hy het ook bygevoeg dat die gemeenskap ingelig word oor die gevare van gesinsgeweld.
Beamptes het ook meer gedeel oor die jeug en die struikelblokke wat hulle elke dag deurmaak, en klem daarop gelê dat die gemeenskap moet saamstaan, saam- werk en hande moet vat.


