Met jare se ondervinding agter sy blad word Freddie Papier op die ouderdom van 76 as ’n kenner op die gebied van patat-groei gesien. Sy onlangse patat-oes is net nog ’n bewys daarvan.
Oom Lange, soos hy onder die inwoners van sy tuisdorp, Hopefield, bekendstaan, het 18 jaar gelede in sy stiefpa se tuin op kleinskaal begin groente plant. Tydens vanjaar se oes het oom Lange ’n groot patat uitgespit wat 4,5 kg weeg en 40×16 cm groot is.
Dit was natuurlik weer ’n trotse oomblik vir Oom Lange, wat vertel dat hy omtrent elke jaar ’n groot patat geoes kry.
Hy plant sy patats – beide die bosbok (rooi patat) en ribbok (wit patat) – tussen Oktober en April in leemgrond – “ ’n soort grond wat klam is en mettertyd sak die vog, maar dit droog nie uit nie”.
“Dis die bosbok met die rooi skil wat so groot groei,” vertel hy met trots.
Hy gebruik kraalmis en ook kunsmis, wat met die suksesvolle groei van sy patats help. “Ons kry al baie jare ’n fantastiese opbrengs,” sê Oom Lange.
Wat maak Oom Lange met sy opbrengs? Hilton Papier beskryf sy oom as ’n mens met ’n baie groot hart en ook ’n vrygewige mens.
“Ek verkoop baie min patat en gee dit meestal vir vriende, minderbevoorregtes en bejaardes. Ek plant nie om geld te maak nie; dit is net ’n passie vir my,” sê Oom Lange.
Hilton onthou sy oom was nog altyd by boerdery betrokke. Hy sê sy oom het destyds met varke geboer en donkies gehad, en mettertyd ’n plaas gehad, het wat in 2019 gelikwideer is.
“Hy het ’n liefde vir tuinmaak en is ’n gemeenskapsmens,” sê Hilton.
Oom Lange glo vas daarin om met geloof te plant. “Ek glo ’n mens moet met geloof plant en altyd God inbring in dit wat jy doen. So sal alles groei, produseer en suksesvol dra.”





