MyRide Nissan Weskus, wat onverwags Woensdag 7 Februarie sy deure in die Marais-nywerheidspark gesluit het, het volgens ’n klagte wat in Desember by die Vredenburg-polisie aangemeld is, amper R1 miljoen se skade weens beweerde bedrog gely.
Van die personeel van MyRide Nissan Weskus, wat nog by die onderneming gewerk het, is op dié dag onkant betrap deur die skielike aankondiging dat die deure sluit.
Ander het reeds vroeër vanjaar en einde verlede jaar gesien “dinge loop nie reg nie” en ander werk gaan soek.
’n Bedrogklagte is op 19 Desember 2023 teen ’n 59-jarige man van Langebaan aangemeld. Na wat verneem word was die man nie ’n permanente werknemer van MyRide Nissan Weskus nie.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, hou die klagte verband met die beweerde aankoop van voertuie tussen 1 Junie en 31 Oktober 2023. Luidens die klagstaat was die betrokke voertuie se dokumentasie vermoedelik bedrieglik en van die voertuie is glo ook nie aan die kopers gelewer nie.
MyRide Nissan Weskus het ’n verlies van nagenoeg R974 735 weens die beweerde bedrogspul gely.
Dit kon nog nie bevestig word of iemand al in verband met die klagte in hegtenis geneem is nie.
Die Weskus-tak was een van vier Nissan-takke wat die MyRide-groep kort ná mekaar gesluit het. Die ander was in Johannesburg, Hermanus en die Paarl.
Baie voormalige werknemers wat hul werk só verloor het, is dit eens dat die skrif reeds ’n geruime tyd aan die muur was. Hulle kon nie nuwe voorraad koop nie en teen die einde was daar nie eens geld vir toiletpapier vir die tak nie.
Verskeie mense het ook na die gebou self kom kyk en kom foto’s neem, wat die werknemers laat wonder het wat aangaan.
Hoewel die werknemers in aanloop tot die sluiting deurlopend om uitsluitsel gevra het, is hulle net meegedeel die onderneming kry dalk nuwe eienaars. Die werknemers is ook aangesê om die bestaande voorraad motors te verkoop, al was dit teen ’n verlies. Elf werknemers het glo in twee weke bedank.
Op Woensdag 7 Februarie om 15:00 is die oorblywende werknemers byeengeroep en ingelig dat hulle maar hul goed kan vat en gaan; die onderneming is toe. Die werknemers meen die manier waarop dit hanteer is, los ’n slegte smaak.
Hulle het eers almal afleggingsdokumente gekry, maar drie dae later is dit “vervang” met kennisgewings dat die maatskappy gelikwideer word.
Presies watter deel van die MyRide-groep gelikwideer word, is een van die vrae wat Weslander aan MyRide se direkteure gevra het. Niemand het teen druktyd op die navrae reageer nie, ten spyte van talle versoeke om kommentaar.
Voormalige werknemers wat voor die amptelike sluiting van die tak ander werk gekry het, is vandag dankbaar dat hulle ’n heenkome het – anders as die oorblywende sowat 15 werknemers wat eensklaps sonder ’n inkomste gelaat is.
Die reusegebou reg oorkant die Weskus Mall waarin die MyRide Nissan Weskus-tak geleë was, is tans vir R18 950 000 te koop.
Weslander verneem dat ’n plaaslike bande-onderneming self motorbande van die motors kom afhaal het om ’n deel van die geld wat hulle geskuld is, te verhaal.
Nissan-aanhangers kan uitsien na ’n plaaslike tak onder die Fuzion-groep (Perdeberg-motorgroep) op die aanvanklike Nissan-perseel. Sake sal egter eers mag begin wanneer MyRide Nissan Weskus se likwidasie-proses afgehandel is. Die Fuzion-groep besit nog handelaarskappe in Vredenburg, Malmesbury en Citrusdal.





