Saldanha (in blou) beur vorentoe terwyl ’n speler van Young Hearts hom moedig probeer grond toe bring in die twee spanne se kragmeting op die grafkelder. Foto: Murphy Roberts


Saldanha het Saterdag met karakter en goeie verdediging die grafkelder stil gespeel en die tuisspan 35-22 geklop nadat hy rustyd 14-8 voor was.

Die voormalige Boland-kampioen het ten spyte van twee geelkaarte steeds genoeg gedoen om ’n bonuspuntoorwinning te behaal. Die tuisspan, wat eerste bloed geruik het met ’n onverdoelde drie, het ook sy regverdige kanse gehad om die wedstryd in ’n ander rigting te stuur.

Saldanha, wat die meeste van die eerste helfte in sy eie gebied gespeel het, het ook met hanteerfoute goeie bewegings laat skipbreuk ly. Die tuisspan is moedig deur sy ondersteuners aangehits, maar die besoekers se verdediging was deurslaggewend in hul oorwinning.

Ruben Abels se troepe en veral hul opwindende agterlyn het gereeld die besoekers se verdediging na wind laat gryp en het ook baie kanse vir punte geskep. Saldanha het egter koelkop gebly en die eerste helfte was baie gelyk met albei spanne wat die bal in kritieke tye verloor het.

Saldanha, wat die tweede helfte beter begin het, was ook gou 21-8 voor. Abels se manne het egter teruggeslaan en met 10 minute oor en Saldanha 28-22 voor kon die wedstryd nog enige kant toe swaai. Saldanha se wil en karakter was egter genoeg.. St. Helenabaai het sy onoorwonne status behou toe die span Vredenburg se Burg Boys in die Agterbaai in ’n rugby-riller geklop het. Die wit en rooi truie, wat rustyd agter was, het die wedstryd 14-13 gewen. Die span, wat ’n wedstryd minder as die res het, beklee tans die derde plek op die punteleer en is ook die enigste onoorwonne span.

Steenberg’s Cove het ook weer gewys dat hulle op enige dag enige span hoofbrekens kan besorg toe die jong span Langebaan op dié se tuisveld geklop het. Mamre keer die naweek terug nadat die span vir drie wedstryde geskors was en sal ook nou vinnig wil opmaak om sy plek op die punteleer te verbeter.

Volledige uitslae en wedstrydbepalings

Weskus

St. Helena 14-13 Vredenburg, Hopefield 57-37 Piketberg, Velddrif 14-18 Paternoster, Langebaan 19-22 Steenberg’s Cove en Young hearts 22-35 Saldanha.

Die naweek se program is Saldanha t. Velddrif, Vredenburg t. Young Hearts, Mamre t. Hopefield, Piketberg t. Langebaan, Steenberg’s Cove t. St Helena terwyl Paternoster ’n blaaskans neem.

Swartland

Villagers Wittewater 15-55 Wesbank, Good Hopes 41-22 Riebeeck United, Porterville 30-30 Darling, Never Despairs 35-24 Young Eagles en Moorreesburg 39-31 Abbotsdale.

Die naweek speel Darling t. Villagers Wittewater, Wesbank t. Moorreesburg, Saron t. Goodhopes, Riebeeck United t. Never Despairs, Young Eagles t. Porterville (Abbotsdale los).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article