Paternoster probeer deur die verdediging van Saldanha bars in dié twee spanne se wedstryd Saterdag in Paternoster.Foto: Noluvu Ludidi


Paternoster het Saterdag die voormalige Bolandkampioen Saldanha in ’n spannende maar opwindende wedstryd gepak.

Die tuisspan, wat rustyd 15-20 agter was, kon egter nie die uitklophou plant nie en het die wedstryd 32-36 verloor.

Met humeure wat by tye opgevlam het, het Paternoster wel eerste bloed geruik met ’n verdoelde drie. Die besoekers het egter koelkop gebly en hul eerste punte met ’n strafskop aangeteken. Kort daarna het hulle die neus voor gekry met ’n onverdoelde drie. Paternoster het egter met goeie verdediging die besoekers by tye op die agtervoet gehou. Saldanha, wat die hong­erste voorgekom het, het stelselmatig die tuisspan se verdedigingslinie oopgevlek en die telbord aan die rol gehou.

Paternoster, wat nooit opgegee het nie, het meer as genoeg kanse geskep om dié een te verseël, maar kon egter nie sy kanse afrond nie.

Saldanha het met die oorwinning ook die eerste plek op die punteleer ingeneem met Vredenburg se Burg Boys wat na die tweede plek gesak het.. Die Rhino-span van Piketberg moes Saterdag in hul kragmeting op hul tuisveld die knie teen St. Helenabaai buig, berig Stewart Booyse. St. Helena, wat die wedstryd 43-42 gewen het, was rustyd reeds 21-13 voor. Die oorwinning sit die Agterbaaiers in die derde plek met ’n wedstryd minder as die ander. . Velddrif het die grootste skok van die naweek opgelewer toe hy die Burg Boys met die kous oor die kop huis toe gestuur het. Die nederlaag het die Burg Boys in die tweede plek gelaat terwyl Velddrif uit die laaste plek na tweede laaste gespring het.

Volledige uitslae (28 April):

Weskus

Paternoster 32-36 Saldanha, Velddrif 32-29 Vredenburg, Lange­baan 28-26 Mamre, St. Helena 43-42 Piketberg en Young Hearts 29-19 Steenberg’s Cove.

Swartland

Abbotsdale 36-22 Wesbank, Never Despairs 32-26 Saron, Porterville 41-17 Riebeeck United, Moorreesburg 25-21 Darling en Villagers Wittewater 36-22 Young Eagles

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article