Mans en in ’n mindere mate vroue word elke naweek in die Weskus-polisiedistrik doodgesteek weens verskeie redes, wat insluit rusies oor drank of geld, uit woede of jaloesie, of om ’n misdaad soos roof te kan pleeg.
Goeie ondersoekwerk in só ’n voorval verlede jaar in die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha het daartoe gelei dat Odwa Magoso (33) op Vrydag 3 Mei altesaam 25 jaar tronkstraf opgelê is. Tien van die 25 jaar is vir vyf jaar opgeskort.
Daarbenewens is Odwa ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Speur-adjudant-offisier Heinrich Schmidlin van die Saldanha-speurtak het die saak ondersoek waarin Odwa sy broer, Thembani Magoso (33), op 13 Maart 2023 in Marikana, Middelpos, met ’n mes doodgesteek het.
Hulle het die vorige dag al begin stry terwyl hulle gedrink het.
Die een broer het toe bottels op die dak van die ander een se sinkhokkie gegooi.
Die volgende oggend is Thembani dood nadat hulle verder gestry en Odwa hom in die nek gesteek het.
Thembani is op die toneel oorlede.
Die afgelope naweek is nóg twee mans en ’n tienerseun vermoor en een ernstig beseer.
. Die Vredenburg-polisie ondersoek ’n moordsaak nadat ’n 15-jarige seun Saterdagaand (4 Mei) in die Vredenburg- provinsiale hospitaal oorlede is.
Die tienerseun is in Hartbeesstraat, Witteklip, met ’n mes in die gesig gesteek.
Die ondersoek na sy aanval duur voort, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
. Nog ’n tiener, ’n 16-jarige seun van Darling, sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad aan nadat hy Vrydagoggend (3 Mei) in Madeliefiestraat, Darling, met ’n panga aangeval is.
Hy het ’n kopwond opgedoen en sy linkerbeen is in die aanval gebreek.
Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.
. In ’n ander voorval het ’n stryery Vrydagaand (3 Mei) tussen Shane Basson (32) en Peter Kotze (29) uitgebreek en later die aand tot Basson se dood gelei.
Kotze het Basson na bewering in Anemoonstraat met ’n mes in die regterbors gesteek, waarna Basson in die Clanwilliam-hospitaal opgeneem en later dood verklaar is.
Kotze het ’n misdaadrekord en is in Maart vanjaar aan diefstal skuldig bevind.
Hy het reeds Maandag in die Clanwilliam-hof verskyn.
. Zoliani Ntozini (27) se lyk is Sondagoggend (5 Mei) tussen hokkies in Bakelastraat, Ilingelethu in Malmesbury, gekry.
Ntozini was sonder skoene en is vermoedelik met ’n mes gesteek.
Niemand is nog in verband met dié moord in hegtenis geneem nie.


