Met hope balbesit en gebiedsvoordeel het Velddrif Saterdag sy eie ondergang in Mamre bewerkstellig. Velddrif het die wedstryd met 19-25 verloor nadat hy rustyd ook 9-12 agter was.
Die besoekers het die tuisspan vroeg onder druk geplaas met die een aanval na die ander en was reeds in die eerste paar minute met ’n strafskop voor op die telbord. Velddrif het ook die tuisspan harde bene in die vaste skrums laat kou en het ook gereeld sy eie afskoppe terug gewen.
Mamre het egter koelkop gebly en sy vlugvoetige agterlyn het die besoekers se verdediging behoorlik getoets.
Mamre het ná verskeie aanvalle sy eerste verdoelde drie behaal en so ook die voortou geneem.
Velddrif het egter nie teruggestaan vir die troepe van Kenny Stadler nie en het die telbord met strafskoppe aan die rol gehou. Velddrif het meer as genoeg kanse vir homself geskep en die tuisspan tot foute gedwing. Die besoekers het egter besluit om strafskoppe binne trefafstand na die pale te skop eerder as om kantlyn toe te skop en dit het die besoekers duur te staan gekom.
Die tuisspan se skrumwerk was onder geweldige druk en het ook heeltemal te veel balbesit afgestaan. Die Groentruie het egter die min kanse wat hulle gehad het elke keer tot hul voordeel gebruik.
Die tweede helfte was op ’n mespunt gebalanseer en ook baie gelyk. Velddrif wonder steeds wat het vir hom verkeerd geloop, maar die tuisspan het weer eens bewys dat rugby ná 80 minute gewen word. Karakter, veggees en die wil om te wen was deurslaggewend vir die Groentruie. Met hul oorwinning het hulle ook uit die laaste plek opgeskuif.
. Steenberg’s Cove het sy grootste oorwinning sedert sy ontstaan behaal toe hy die voormalige Boland-kampioen in die Agterbaai geklop het.
Weslander het juis verlede week berig dat die Cove op sy tuisveld ’n harde neut om te kraak is.
Saldanha is die enigste span wat sy eerste ronde voltooi het en beklee steeds die eerste plek, terwyl die ander spanne almal ’n wedstryd minder gespeel het. Vredenburg, wat ’n blaaskans geneem het, behou ook sy tweede plek nadat St. Helenabaai, wat die voortou op die punteleer sou kon inneem indien hulle Langebaan kon klop, egter nie die geleentheid gebruik het nie.
Daar sal die komende naweek geen rugby wees nie en alle verpligtinge sal 1 Junie hervat word. Volledige uitslae
. Weskus:
Mamre 25-19 Velddrif, Langebaan 35-24 St. Helena, Hopefield 22-21 Young Hearts, Steenberg’s Cove 18-17 Saldanha en Paternoster 15-46 Piketberg.
. Swartland:
Abbotsdale 50-33 Riebeeck United, Wesbank 78-5 Young Eagles, Saron 39-21 Moorreesburg, Porterville 34-22 Never Despairs en Good Hopes 24-5 Villagers Wittewater.





