Dié ongeluk het op Sondag 19 Mei op die Weskuspad (R27) plaasgevind. Foto: West Coast Medical Rescue


Motoriste wat elke dag deur digte mis op Weskuspaaie moet ry, is dit eens dat dit ’n senutergende rit is met sigbaarheid wat binne ’n kwessie van sekondes ernstig kan verswak.

Noodpersoneel moes die afgelope naweek bontstaan weens ongelukke wat deur mistige toestande en verminderde sigbaarheid op die pad veroorsaak is.

Op Maandag 20 Mei het twee voertuie in Vredenburg gebots, net voor jy die dorp uitry na Paternoster.

West Coast Medical Rescue het tydens die versperring van die een baan terwyl die ongelukstoneel opgeruim word, gewaarsku oor die digte mis en slegte sigbaarheid.

Sondag was daar ’n botsing reg van voor op die Weskuspad (R27) net voor die kruising met die Hopefieldpad (R45) op pad na die Kaap.

Om veilig in die mis te ry, is selfs vir gesoute Weskussers wat dié tyd van die jaar gewoond is daaraan, ’n uitdaging. Met die mis wat sig tot minder as een kilometer, of selfs nog nader, kan verminder, moet motorbestuurders hul bestuursgewoontes verander om by die gure toestande aan te pas.

Arrive Alive meen veral onvoldoende volgafstande en spoed speel die grootste rol in ongelukke in die mis. Hulle gee dié wenke: . Hou weerstoestande dop voordat jy ry. Indien daar waarskuwings oor verswakte sig is, probeer jou rit uitstel, indien moontlik. Anders, ry uiters versigtig.. Om in die mis te ry in die nag is selfs moeiliker. Gaan jou voorruit na om te verseker dat dit skoon is en die beste sig moontlik bied.. Toets jou misligte vroegtydig. . Maak seker dat jy weet hoe om die wasem van jou voorruit af te kry. Maak ’n syvenster effens oop en draai die warm lug na ’n hoër spoed.. Verminder spoed. Maak voorsiening vir genoeg spasie tussen jou voertuig en die voertuig voor jou.

Vermeerder die minimum veiligheidsgaping van drie sekondes. Dink aan hoe ver jy kan sien en hoe lank dit jou sal neem om te stop.. Skakel jou ryligte aan. Moenie jou ligte op hul skerpste stel nie, want die helder lig beïnvloed jou visie deur ’n weerkaatsing van die mis te skep, wat jou vermoë om te sien terwyl jy bestuur belemmer.. Moenie jou noodligte aanskakel of kort-kort rem trap nie. Studies wys daarop dat bestuurders agter jou senuweeagtig kan raak en jou probeer verbysteek, wat almal se lewe in gevaar kan stel.. Kyk uit vir ander bestuurders wat nie ryligte aan het nie.. Gebruik die rand van die pad as ’n gids, eerder as die stippellyn in die middel om te verhoed dat jy voor aankomende verkeer beland of deur hul ligte verwar word.. Moet nooit in die middel van die pad stilhou nie. Gee jou voornemens om stil te hou vroeg te kenne en trek op die skouer af.

Probeer jou voertuig heeltemal van die pad af kry. Sodra jy die pad verlaat het, skakel jou ryligte af en sit jou flikkers aan, sodat ander weet jy is daar, maar nie dink dat jy op die pad ry nie.. Moenie probeer om ander voertuie in mistige toestande verby te steek nie. Bly kalm en geduldig.. Verminder die dinge wat jou aandag aftrek in jou voertuig.

As jy ’n kruising met beperkte sig moet oorsteek, hou eers stil, draai die venster af en luister vir verkeer.

Wanneer jy seker is dit is veilig om dit oor te steek, doen dit vinnig sodat jy nie in die pad van naderende voertuie beland nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article