’n Plaasbewoner wat sy vriend se tienjarige dogter verkrag en dit op sy selfoon opgeneem het, is 18 jaar direkte tronkstraf opgelê.
Volgens Anelisiwe Manyana, ’n woordvoerder vir die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap, het Madoda Maloyi (31) op dieselfde plaas as die slagoffer in die Piketberg-omgewing gebly.
Hy het die kind op 24 Desember 2021 tussen 15:30 en 17:00 na sy huis gelok en haar seksueel aangerand en verkrag.
Hy het ook die grusame dade op sy selfoon opgeneem.
Die kind se ouer suster het hul ma op 27 Desember oor die slagoffer se beproewing ingelig en die voorval is by die polisie aangemeld.
Maloyi is hierna op aanklag van die verkragting in hegtenis geneem.
Die beskuldigde is uiteindelik op Maandag 27 Mei vanjaar aan verkragting skuldig bevind en 18 jaar gevangenisstraf opgelê.
Lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die skuldigbevinding en vonnisse verwelkom.



