Media24 het Dinsdag (18 Junie), by monde van sy uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, aangekondig dat hy dit oorweeg om die gedrukte uitgawes van vyf koerante te sluit en drie van hulle net digitaal te laat voortleef. Die maatskappy het ook ’n aanbod aanvaar om sy portefeulje van gemeenskapskoerante en medialogistieke onderneming te verkoop. Konsultasies met personeel en die oordrag van die besighede wat verkoop is, begin vandeesweek.
Die beplande ingrypings sluit die volgende in:. Die sluiting van die gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma, asook die digitale (PDF-) uitgawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap, en die digitale inhoudsplatform SNL24.. Behou Rapport, City Press en Daily Sun as slegs digitale handelsmerke.. Verkoop On the Dot, die medialogistieke onderneming, en die portefeulje van gemeenskapskoerante aan Novus Holdings, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.
Davidson sê: “In Suid-Afrika, nes elders in die wêreld, het verbruikers se voorkeure verander. Mense lees nou meer nuus as ooit tevore, maar verkies om dit op hul selfone of skootrekenaars te doen en uitgewers het geen keuse nie as om hierby aan te pas.
“Gevolglik gaan die gedrukte media wêreldwyd al vir dekades onder strukturele dalings in sirkulasies en advertensies gebuk. Tesame met die stygende vaste koste vir die verspreiding van krimpende rakverkope, het dit ’n verwoestende uitwerking op drukmedia-bedrywighede.
“As gevolg hiervan hang die lewensvatbaarheid van ons titels in die noordelike streke al ’n geruime tyd aan ’n dun draadjie, en is die vooruitskatting dat hul gesamentlike verliese oor die volgende drie jaar tot R200 m kan beloop. Ná jare se moedige pogings, is daar nie meer enige vorm van besnoeiing of besparings oor om hierdie gedrukte koerante te red nie.
“Dit is waarom ons nou ons besigheid moet herstruktureer sodat die oorblywende, haalbare titels die volle oorgang na digitaal kan maak. Dit sal ook vir News24 en Netwerk24 verstewig, die hooffokus van ons digitale nuus-aanbod wat gehore en die gemeenskap oor veelvuldige marksegmente heen bedien.”
As digitale handelsmerke sal Rapport en City Press deel wees van Netwerk24 en News24 onderskeidelik. Beeld, Volksblad en Die Burger Oos se lesers en intekenare sal steeds hul nuus op Netwerk24 kan lees, tesame met die bykans 100 000 intekenare wat die platform se aanbod van “Alles op een plek” geniet.
hoofdoelwit
Dit is hierdie hernieude fokus op sy twee grootste digitale nuushandelsmerke wat bygedra het tot Media24 se besluit om SNL24 te sluit en sy belange in die winsgewende gemeenskapskoerante te verkoop, sê Davidson.
“Ons hoofdoelwit is om ’n volhoubare model vir digitale nuusjoernalistiek te bou en vestig. Daily Sun (deel van SNL24) verteenwoordig ’n belangrike segment van die middelmark en ons sal dit steeds bedien met die omskepping van die handelsmerk in ’n alleenstaande, gratis e-nuuswebtuiste.”
Die Burger en Son in die Wes-Kaap word nie deur hierdie stappe geraak nie. Hulle het ’n aparte infrastruktuur wat steeds haalbaar is danksy die meer gekonsentreerde plaaslike verspreiding en laer koste, en hulle is matig winsgewend. “Boonop het Die Burger groot historiese waarde as die basis waarop Naspers gebou is.”
Met hierdie verskraling van sy portefeulje gedrukte media het Media24 ook besluit om sy medialogistieke onderneming, On the Dot, te verkoop.
Die konsultasies sal na verwagting oor die volgende drie maande afgehandel word, met 30 September in die vooruitsig as die datum waarop die laaste uitgawes van die koerante sal verskyn wat deur die proses geraak word. “Ons voorsien dat die voorgestelde herstrukturering kan lei tot die verlies van minstens 400 poste, met nog 400 wat na Novus Holdings oorgeplaas word met die verkoopstransaksie, en sommige poste wat dalk ná 30 September nodig kan wees,” sê Davidson. “Ons beplan ook om ons korporatiewe en ander steundienste en operasionele koste te verskraal in lyn met die veranderinge in ons sakebedrywighede.”
baie mededingend
“Ons is ten volle daartoe verbind om hierdie hoogs sensitiewe konsultasies met deernis te bestuur, terwyl ons ook die wetlik voorgeskrewe proses volg en sal poog om werksverliese – veral onder ons joernaliste – tot die minimum te beperk. Ons kan ongelukkig geen verdere inligting bekend maak alvorens die proses afgehandel is nie.”
In ’n baie mededingende mark verkies Suid-Afrikaners reeds News24 en Netwerk24 as hul bestemmings vir digitale nuus. Die Reuters Instituut het pas vir News24 vir die sesde agtereenvolgende jaar as die mees vertroude nuushandelsmerk in Suid-Afrika aangewys. In die boekjaar tot 31 Maart 2024 het dit daagliks ’n gemiddelde 9,1 miljoen unieke bladlese gehandhaaf, en Netwerk24 5,7 m. Meer onlangs het hulle in die loop van die verkiesingsweek net onder die 105 m. bladlese behaal. Die hoogtepunte was ’n rekord 21.9 m bladlese vir News24 en 5,8 m. vir Netwerk24.
“In die afgelope boekjaar het hul gesamentlike intekenare jaar-op-jaar met 19% tot meer as 200 000 gegroei. Dit is aansienlik meer as die gekombineerde sirkulasie van al ons gedrukte koerante,” sê Davidson.
“Daar is geen twyfel dat ons toekoms digitaal is nie. Maar ons digitale nuusdienste se enigste mededingers is lankal nie meer net die ander plaaslike uitgewers nie. Ons grootste mededingers is nou Facebook, Google, Instagram en TikTok; almal van hulle goed befonds en in die buiteland gesetel.
Ter afsluiting sê prof. Rachel Jafta, voorsitter van die Media24-direksie: “As die tuiste van onafhanklike joernalistiek waarin mense groot vertroue plaas, speel Media24 ’n deurslaggewende rol in ons samelewing – veral om aan miljoene van ons mede landsburgers ’n stem te gee. Ons sal so toegewyd soos altyd bly tot hierdie morele verpligting.”




