Ná 39 jaar se toegewyde diens aan die onderwys, het Isak van Rooi die besluit geneem om af te tree.
Van Rooi is sedert 1982 in die onderwys, en alles het in Laingsburg begin. Hy het in 1986 by die Laerskool Panorama begin en in 1998 uit die onderwys bedank. Van Rooi was dus met ’n paar onderbrekings in diens asook sy beheerliggaampos in Moorreesburg altesaam 32 jaer by die Laerskool Panorama.
Volgens Hylton Langley, die skoolhoof, was Van Rooi gedurende sy lang en vrugbare loopbaan ’n onmisbare steunpilaar by die skool en ’n mentor vir leerders en kollegas. “Sy wysheid, ervaring en onbaatsugtige toewyding het diep spore in die hart van almal hier by Panorama gelaat,” sê Langley.
Met al die jare omring deur kinders en sy passie vir onderwys vertel Van Rooi hy gaan gewis die verhouding met sy leerders mis. “Ek gaan mis hoe ek in my 32 jaar by Panorama die leerders se ouers en oumas en oupas ook klasgegee het; om leerders te sien groei in hul verhouding met ander leerders; die uitdrukking op leerders se gesigte wanneer hulle ‘ek kan dit doen’ op hul gesigte wys; die vertroue wat leerders in my gehad het om persoonlike probleme wat hulle ervaar het, met my te deel,” vertel Van Rooi.
’n Onderwyser ervaar talle hoogtepunte, maar vir Van Rooi was dit om elke einde van die jaar die uitdrukking op sy leerders se gesigte te kon sien wanneer hulle na die volgende graad bevorder is – veral party wat leerprobleme gehad het.
“Asook die openbaring op leerders se gesigte wanneer hulle ’n moeilike konsep, veral in Wiskunde, bemeester.”
Van Rooi moedig ander onderwysers aan om altyd voorbereid te wees in die vak wat hulle onderrig.
“Die leerders sien gou as ’n opvoeder nie voorbereid is nie en dan ervaar hy/sy dissipline-probleme. Luister altyd na jou leerders se persoonlike probleme. Doen wat jy moet doen, en dit is onderrig met sy vele fasette.
“Respekteer jou leerders en hulle sal respek vir jou hê.”
Langley meen Van Rooi se aftrede laat ’n groot leemte in die Panorama-familie. Sy teenwoordigheid en waardevolle bydraes sal geweldig gemis word.
“Dit is egter met groot waardering en respek dat ons hom nou toelaat om ’n nuwe hoofstuk in sy lewe te betree. Ons wens mnr. Van Rooi voorspoed en seën toe in sy aftrede, met die hoop dat hy ’n welverdiende rus en genotvolle tyd sal ervaar. Mag hierdie nuwe fase vol vreugde en ontspanning wees.”





