Elke vrou benodig ’n hekeltannie in haar lewe.

Só was ek in ’n stadium van my lewe erg depressief en aan die huis gekluister.

Die huisgebondenheid is ook vererger deur die feit dat ek van die huis af gewerk het met taalkliënte met wie ek meestal net per e-pos gekommunikeer het – nie eens foonoproepe nie.

My kinders was nog op skool en het net naweke huis toe gekom, en my man het nog daagliks by ’n staalfabriek gewerk.

Dit was dus ek en my hond en katte heeldag alleen. Die skootrekenaar was my enigste skakel met die buitewêreld.

My ma kom kuier en ná een van haar uitstappies kom sy een middag baie opgewonde by die huis met die nuus oor ’n hekelgroepie.

Sy het uitgevind daar is ’n hekelgroepie by die padstal op Nieuwe Rust en sy lig my in dat ek en sy die volgende dag gaan hekel.

Ek probeer my daaruit kry, want eerstens kan ek nie hekel nie; tweedens was ek nie lus vir mense nie.

My selfopgelegde ballingskap het toe al ’n paar jaar aangekom.

Maar aan Ma Marjory was daar gewoonlik geen keer as sy eers op iets besluit het nie. Ons het wol in allerhande kleure gekoop en elkeen ’n nommerses-hekelpen gekry.

So kom ons by die hekelgroep aan en ek besef ek is verreweg die jongste.

Die gryskop tantes sit om die tafel, elkeen met ’n reuse-sak vol bolle wol, hekelboeke, uitknipsels uit tydskrifte en sakkies met hekelpenne in alle groottes en style.

My ma begin natuurlik dadelik te gesels – vertel tot my skande heelwat staaltjies oor my as kind.

Ek probeer konsentreer om tog net die wolletjie op die regte manier om die hekelpen te kry. Ek hekel so styf dat ek skaars die pen uit die loop kan kry.

Ek begin ’n vierkantige stuk hekel, ’n granny square, want “dit is maar waar almal begin”.

Maar ek sê nie ’n woord nie.

Om my gesels die vroue oor kinders, politiek en resepte; vertel verhale uit húlle kinderdae en lag lekker en hard.

Terwyl die hekelpenne op en af beweeg, word bande gesmee, harte geheel en koffie en tee gedrink.

Tannie Alta Nel, wie se padstal dit is, is duidelik die spil waarom die groep draai. ’n Mens kry haar altyd omring met bolle wol, besig om te hekel.

Die hekeltantes help my mettertyd om saam te gesels. Namate my hekelvernuf groei, word die alleenheid en depressie toegegroei.

Die hekeltannies word my toevlug. Donderdae is ek baiekeer eerste daar.

Ons doop die groep: die Happy Hookers.

Ons deel verjaarsdae met deftige tafels en eetgoed. Tannie Lucretia Detoit sorg altyd vir sports, lawwe hoedjies en so ietsie ekstra vir elkeen.

Sy leer my van corner-to-corner en ek hekel selfs later ’n kombers.

Tannie Alet van den Heever met haar vernuftige hekelprojekte inspireer my om ’n mus met kat-ore vir my dogter klaar te maak.

Steek vir steek help hulle my weer ontdooi; leer hulle my weer om te lag.

Ons ontdek Pinterest en is verstom oor al die gratis hekelpatrone. Ons verbeeldings ken nou geen perke nie.

By elke liewe vrou saam met wie ek hekel, leer ek iets. Elke vrou gaan deur iets, dra swaar en het ander vroue om haar nodig.

Selfs ná my ma se dood daardie einste jaar, hou ek nie op met hekel nie.

Die Happy Hookers dra my deur my ma se sesmaande-kankerstryd en help my agterna om haar dood te verwerk.

Ons gaan hou piekniek op Trekoskraal se strand.

Hierdie is ’n ode aan elke vrou met wie ek die voorreg gehad het om ure aaneen te kon lag en gesels terwyl ons mekaar leer oor die lewe.

En hekel, natuurlik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article