Vyf punte – St. Helenabaai bars deur vir een van sy drie drieë teen Velddrif. Nog foto’s op bl. 15. Foto: Noluvu Ludidi


St. Helenabaai het Saterdag op sy tuisveld uit die kake van ’n nederlaag ontsnap met ’n skepskop in beseringstyd teen Velddrif.

Ferlin Julius, die plaasvervanger-losskakel, het die kersie op die koek vir die tuisspan gesit. Die Agterbaaiers, wat rustyd 10-7 voor was, het die rillerstryd 26-24 gewen. Die tuisspan was vinnig uit die blokke en het die besoekers reeds vroeg onder druk geplaas met ’n verdoelde drie en ’n strafskop.

Velddrif het egter daarna die rieme styf gedraai en die tuisspan met goeie verdediging op die agtervoet gehou. Die twee spanne het die toeskouers met goeie aanvallende rugby en rotsvaste verdediging op hul voete gehad.

Velddrif het die agterstand kort voor rustyd tot slegs drie punte laat krimp.

Die besoekers het die tweede helfte ook vinnig begin met ’n onverdoelde drie om die neus die eerste keer voor te kry. Die wedstryd het daarna in ’n wipplank-stryd ontaard met die voorloper wat gereeld verander het.

Julius het in die 60ste minuut opgekom en die eerste bal wat hy ontvang het, in ’n skepskop omgeskep om die tuisspan se agterstand tot slegs een punt te laat krimp. Velddrif het moedig probeer om sy eenpunt-voorsprong te verdedig en ook ’n broodnodige oorwinning te kry.

Julius het egter gewys hoekom hy een van drie St. Helenabaaise spelers is wat in die finale Boland-o.21-span is en het die besoekers in die doodsnikke met die kous oor die kop huis toe gestuur. Mornè Alexander (vleuel/heelagter) en Romario Talmakkies (agsteman) is twee ander spelers in dié groep. . Saldanha het Saterdag in Hopefield vasgeval, maar het steeds die boonste plek op die punteleer behou. Hopefield het die baie gelykopstryd 29-27 gewen. Paternoster, wat ná die eerste ronde boaan die punteleer was, bevind hom nou in die tweede plek – gelyk met Hopefield.

Met vier spanne wat twee wedstryde minder as die res gespeel het. kan die punteleer ná die naweek drasties verander. . Vredenburg se wedstryde teen Young Hearts en Mamre kon nie plaasvind nie. Mamre, wat die naweek Vredenburg moes onthaal, se wedstryd is afgelas weens die begrafnis van sy voorsitter.

Vredenburg (vierde) en St. Helenabaai (vyfde) met slegs een punt wat die twee skei, kan die punteleer ná die komende naweek deurmekaar krap.

Volledige uitslae:V Weskus

Hopefield 29-27 Saldanha; St Helena 26-24 Velddrif; Langebaan 41-22 PaternosterVSwartland

Never Despair 17-20 Abbotsdale; Porterville 51-22 Moorreesburg; Saron 32-38 Darling; Good Hopes 31-38 Wesbank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article