Rhyno Williams van Saldanha Tigers met die bal in die hand is as Speler van die Wedstryd aangewys.


Saldanha Tigers het Saterdag (29 Junie) Koringberg op Diazpark in ’n streekuitdaagwedstryd van die Boland Rugby-unie met 29 punte teenoor 13 geklop. Die rustydtelling was 12 punte teenoor 6 in die Tiere se guns.

Dit was a harde wedstryd met die twee spanne wat onderskeidelik sesde (Koringberg) en sewende (Tiere) op die punteleer is. Koringberg het uit die staanspoor gewys hy het gekom om seker te maak dat hy as oorwinnaar uit die stryd tree, maar die tuisspan het gewys sy oorwinnings die afgelope twee wedstryde was nie net geluk nie.

Koringberg het met die afskop saam met die wind gespeel. Hy was baas in die skrums en sy lynstane was puik.

Koringberg het eerste bloed geruik toe sy heelagter, Winston Lee van Wyk, met ’n strafskop geslaag het. Tiaan “Jam” van Wyk het daarna vir die Tiere gaan druk en sy drie is deur die losskakel, Marco Abrahams, verdoel. Winston het daarna weer die bal vir ’n strafskop oorgeklits. Austin Sauls het vir die tuisspan deurge­hardloop en seker gemaak die spanne gaan drink water met die rustydtelling op 12-6 in die guns van die tuisspan.

Die Tiere het met uitstekende spel gewys sy afgelope twee oorwinnings teen Universals en Goedverwacht was nie gelukskote nie en het die besoekers harde bene laat kou. Die tuisspan het die krane behoorlik oopgedraai en die besoekers moes hul keer ken.

Die nuweling-senter, Ryno “Sluiper” Williams, het met briljante voetwerk twee teenstanders na laat lug gryp en sy span se derde drie gedruk, wat deur Abrahams verdoel is en die telling op 19-6 te staan gebring het.

Abrahams het hierna weer met ’n strafskop slaag en die telling 22-6 in die guns van die tuisspan gemaak. Kort daarna het die tuisspan verwoed aangeval en die besoekers moes weer keer. Die een aanval ná die ander is begin, maar deurkomkans was min. Uiteindelik het die plaasvervanger-senter, Vernon “Ai” Losper, daarin geslaag om deur Koringberg se verdediging te dring om sy span se bonuspuntdrie aan te teken.

Abrahams het weer verdoel en die telling op 29-6 te staan gebring.

Daarna het die vleuel Mortley Albertus van Koringberg oor die doellyn geval vir ’n drie wat weerr deur Van Wyk verdoel is. Die eindtelling was 29-13.

Uitblinkers aan die kant van Saldanha Tigers was Devrill “The Beast” Julius (agsteman), Revaldo Barends (plaasver­vanger-slot), John Ross September (plaas­ver­vanger-stut), Ryno Williams (senter) en Tiaan “Jam” van Wyk (senter).

Uitblin­kers aan die kant van Korries was Lucan Passens (agsteman en kaptein), Jemilio Goliath (flank), Winston Lee van Wyk (heelagter) en Edwayne van Wyk (senter).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article