Selfoonrowers het die afgelope naweek verskeie vroue in die Weskus geteiken.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, waarsku die publiek en veral vroue om te alle tye waaksaam en versigtig te wees as hulle gaan stap.

Só het twee bejaarde vroue Saterdagoggend (20 Julie) omstreeks 07:00 in die Langebaan-omgewing gaan stap met hul selfone en voertuigsleutels om hul nekke gehang.

’n Onbekende man, geklee in ’n blou werkersbroek en ’n glimbaadjie, het op die vroue afgestorm. Een vrou is gegryp, teen die pad gegooi en met ’n vuurwapen in die gesig geslaan. Die rower het hierna haar vriendin met die vuurwapen gedreig. Hy het met hul selfone en voertuigsleutels, wat hy van hul nekke af gegryp het, gevlug.

In Laaiplek is ’n 35-jarige vrou ook Saterdagoggend agter ’n oop stuk veld deur ’n vreemdeling beroof terwyl sy op pad werk toe was. Die rower het haar met ’n mes en ’n speelgoedvuurwapen gedreig voordat hy haar selfoon gegryp en daarmee gevlug het.

En Sondagoggend (21 Julie) is ’n 19-jarige vrou in Nelson Mandelastraat in Citrusdal beroof.

’n Vreemdeling het haar ook op pad werk toe van agter gegryp en met ’n vuurwapen gedreig. Hy het met haar selfoon gevlug.

Dit volg op die rooftog op drie vroue in ’n parkie in Laingville, waaroor Weslander verlede week berig het (“Rowers maak amok in Laingville”, 18 Julie 2024).

Dié vroue het Saterdag 13 Julie omstreeks agtuur naby die skool in ’n parkie gesit toe drie rowers vuurwapens op hulle gerig en op hul selfone aangedring het.

Die rowers het daarna gevlug.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article