Die hof het gelas dat ’n sanger, wat vroeër jare in die Weskus baie gewild was, lesse in woedebestuur (anger management) moet ondergaan as deel van die afhandeling van ’n aanrandingsaak teen hom.
Ivan van der Merwe (40) staan in die Vanrhynsdorp-landdroshof tereg op ’n aanklag van ernstige aanranding weens die aanranding van sy gewese lewensmaat, Sune Huysamen (34), tydens ’n stryery op Vrydag 24 November verlede jaar.
Van der Merwe se pa, Leonardus Johannes van der Merwe (67), word ook by die gebeure betrek en is daarom saam met sy seun in die beskuldigdebank. Hulle het op Woensdag 24 Januarie die eerste keer in die hof verskyn (“Sanger en pa in hof”, Weslander, 8 Februarie 2024) en die verhoor het op Woensdag 22 Mei begin.
Huysamen het in April vanjaar ook ’n tydelike beskermingsbevel teen Ivan verkry omdat hy na bewering in stem- en teksboodskappe gedreig het om haar seer te maak as sy nie die aanrandingsaak en haar weergawe van die gebeure in die openbaar terugtrek nie. Omdat hy die bepalings van dié tydelike beskermingsbevel oortree het, is dit verlede week (Dinsdag 9 Julie) in die Bellville-landdroshof permanent van krag gemaak.
Op Donderdag 11 Julie het die aanrandingsaak weer in Vanrhynsdorp voorgekom waar die hof op ’n afwendingproses eerder as strafregtelike vervolging besluit het. Dit impliseer die voorlopige terugtrek van die aanklagte, op voorwaarde dat Ivan vóór 12 September aan ’n woedebeheerprogram deelneem.
Om vir afwending te kwalifiseer, moes Ivan aandui dat hy ’n vaste adres het, aanspreeklikheid vir die oortreding aanvaar en bereid is om op sy eie onkoste die woedebeheerprogram by die nasionale instituut vir misdaad en rehabilitasie van oortreders (Nicro) by te woon en te voltooi.
Ná voltooiing sal ’n maatskaplike werker ’n verslag by die staatsaanklaer indien. Indien Ivan saamgewerk het en by die program baatgevind het, sal die saak teruggetrek word. Indien nie, sal die vervolging voortgaan.
Luidens Artikel 6 van die Strafproseswet kan ’n hof hom tot afwending eerder as strafregtelike vervolging wend om aanspreeklikheid aan te moedig, ’n geïndividualiseerde reaksie op misdaad te bevorder, die oortreder terug in die samelewing te integreer, geleentheid tot herstel te bied, onderliggende probleme te identifiseer wat tot aanstootlike gedrag gelei het, en opvoeding en rehabilitasie te verskaf sodat die gedrag nie verder ontwikkel nie.





