Die inwoners en personeel van Die Eilandhuis in St. Helenabaai is in rou gedompel ná die sterfte van Jimmy Duncan (73).

Jimmy het ná ’n kort siekte weens ’n longinfeksie vinnig verswak en is op Woensdag 24 Julie oorlede.

Jimmy is die stigter van Eilandhuis en het dié instansie in 2005 op die been gebring. As ’n pa van ’n gestremde dogter het hy die besluit geneem om ’n veilige hawe vir mense met gestremdhede te stig.

Volgens suster Maxie Potgieter, wat jare saam met Jimmy gewerk het, het hy sy werk as blokman opgegee en sy droom met harde werk en toewyding bewaarheid. “Hy het nie net ’n struktuur opgerig nie, maar ’n veilige hawe met sorg en liefde vir mense met gestremdhede gevestig,” sê Potgieter.

Sy beskryf Jimmy as ’n eenvoudige mens, en juis dit het sy nederigheid en omgee vir ander weerspieël.

“Meneer Jimmy was uniek in sy soort. Hy was ’n geweldig behulpsame mens wat nooit sou neersien op ander nie. Hy was ’n passievolle mens wat gestreef het om vir die gestremde kinders ’n geleentheid te bied waarin hulle hulself kon uitleef.

“Hy was ’n onbaatsugtige, onselfsugtige mens, wat homself altyd opsy geskuif het om ander mense eerste te stel. Sy ondersteuning en hulp vir ander het geen perke geken nie, ongeag wie die mens of mense was. Sy lewe het absoluut gedraai rondom die kinders van Eilandhuis. Meneer Jimmy het pa gestaan nie net vir die gestremde kinders by Eilandhuis nie, maar vir die mens, die gemeenskap en soveel meer.”

Potgieter voeg by dat die personeel van Eilandhuis mekaar as familie beskou en dat Jimmy ’n ware steunpilaar was.

“Hy was nooit te siek of te oud om sy hulp aan te bied nie. Meneer Jimmy Duncan se legacy sal vir altyd voortleef. Hy sal baie gemis word deur sy familie, kollegas, vriende, kennisse, die gemeenskap, die ouers van die inwoners by Eilandhuis en al die kinders van die Eilandhuis.”

“Die Eilandhuis was die plek waar hy tuisgevoel het. Dit sou sy wens gewees het om van familie, vriende, kennisse en die gemeenskap hier afskeid te neem.”

. ’n Huldeblyk en diens is Saterdag 3 Augustus om 10:00 by die Eilandhuis gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article