Twee gewelddadige rooftogte by woonhuise het Maandagoggend en Maandagaand in Dwarskersbos en Yzerfontein plaasgevind.
In albei gevalle het die inwoners oorleef, maar is hulle erg getraumatiseerd.
’n 54-jarige vrou van Dolfynstraat, Dwarskersbos, het Maandagoggend 29 Julie omstreeks 04:00 wakker geskrik toe ’n rower sy hand oor haar mond gedruk het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, het die vrou bewus geword van nog twee rowers in die kamer.
Die rowers, sowat vyf, het daarop aangedring dat sy moet sê waar die kluis met die vuurwapens is. Sy het gesê dat sy nie vuurwapens besit nie, waarop die rowers haar hande en bene vasgebind en die huis omgekeer het.
Hulle het ’n TV-stel, skootrekenaar, juwele, selfone, bankkaarte en ander artikels gevat. Die rowers wou weet of haar voertuig ’n opsporingstoestel (tracker) in het en sy het gesê dit het wel.
Die rowers het toegang tot die huis gekry deur ’n venster en hulle is by ’n skuifdeur met die gesteelde artikels uit.
Smit het hulp gaan kry, waarop die plaaslike landelikeveiligheidspan hul hommeltuie ingespan het om die rowers op te spoor.
Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle weggehardloop, maar drie is ingehaal en die gesteelde goedere in hul besit gekry.
Twee rowers het egter weggekom.
Die maroen Mazda waarmee die rowers na die huis gebring is, is in Aurora teruggevind.
Andile Khumalo (35), Paulus Sithole (41) en Anthony Vilakazi (49) het Woensdag in die Laaiplek-hof verskyn.
In die voorval in Yzerfontein het Eddie (73) en Ingrid Kritzinger (72) Maandagaand 29 Julie omstreeks 20:30 by hul huis in Versveldstraat, Yzerfontein, in hul sitkamer televisie gekyk.
Die egpaar is dr. Riaan Kritzinger, ’n tandarts van Langebaan, se ouers, berig Netwerk24.
Volgens kapt. FC van Wyk, woordvoerder vir die Wes-Kaap-polisie, het drie rowers met klapmusse en rubberhandskoene aan skielik uit die spaarkamer gekom. Hulle het ook, soos in vele ander voorvalle van huisroof die afgelope tyd in die Weskus, toegang verkry deur ’n vensterruit saggies uit te haal.
Die verdagtes het die Kritzingers beveel om stil te bly en voertuie, geld, juweliersware en die kluissleutels geëis. Die rowers was gewapen met ’n vuurwapen, ’n mes en ’n moersleutel. Hulle het ’n skootrekenaar, selfone, ’n notaboek, luidsprekers, ’n versterker en ’n bedrag geld in die egpaar se splinternuwe wit Suzuki Fronx gelaai en weggejaag.
Die egpaar het nog dieselfde dag die voertuig by die motorhandelaar gaan haal en die dokumente was nog in die motor.
Voor die rowers gevlug het, het hulle die egpaar met skoenveters en met ’n bedlaken vasgebind. Hulle het ook die simkaarte uit die egpaar se selfone gehaal en die egpaar in die badkamer toegesluit.
Niemand is nog weens die roof in hegtenis geneem nie.
In November verlede jaar is nog ’n 54-jarige Dwarskersbos-vrou in Rocherpanstraat ook deur huisrowers aangeval. Die rowers het ’n kussingsloop in haar mond gedruk en ’n ander kussingsloop oor haar kop getrek. Hulle is vort met ’n selfoonbatterylaaier, juwele, ’n I-Phone en ’n I-Pad en die voertuig se spaarsleutels.
In nog ’n huisroof, net twee dae later, het vyf rowers ’n 48-jarige vrou en haar man in hul huis in Zeelandstraat, Langebaan, oorval.
In die voorval is ’n motor, selfone, tablette, ’n TV-stel en juwele geroof.
Die voertuig is later die oggend verlate op die R27 op pad na Velddrif gevind.


