Die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai. Foto: namahariplaasmark.com


Die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai is tydens die 46ste sitting van die Unesco-Wêrelderfenis­komitee in Nieu-Delhi, Indië, op Vrydag 26 Julie as wêrelderfenisgebied geproklameer.

Dié rotsskuiling sal nou onder die Wêrelderfeniskonvensie beskerm word en op die wêrelderfenislys bygevoeg word.

Nog twee terreine in Suid-Afrika, die Pinnacle Point-grotte in Mosselbaai en die Sibhudu-grot in KwaDukuza in KwaZulu-Natal, is ook as Wêrelderfenis­gebiede geproklameer.

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging se voorlegging, getiteld The Emergence of Modern Human Behaviour: The Pleistocene Occupation Sites of South Africa, is tydens die sitting van 21 tot 31 Julie vanjaar ingedien.

Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport wat die Wes-Kaapse afvaardiging by die sitting gelei het, het nadat die uitslag van die beraadslagings bekendgemaak is, gesê: “Hierdie terreine is nie net wêreldwye argeologiese skatte nie, maar ook simbole van ons veerkragtigheid, kreatiwiteit en kapasiteit vir innovasie”.

“Hulle herinner ons aan die belangrikheid daarvan om ons kulturele en natuurlike erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.

“Dit is ongelooflik om die vroeë mense voor te stel wat in hierdie plekke gewoon en daardeur gegaan het. Ek is opgewonde oor die potensiaal van wêrelderfenisgebiedstatus om toerisme en ekonomiese ontwikkeling te bevorder en werkskepping moontlik te maak.”

Mackenzie benadruk dat dit ’n belangrike mylpaal is in die kollektiewe reis om die oorsprong van moderne menslike gedrag en gedeelde kulturele erfenis te vier.

“Die uitsonderlike bewaring van hierdie terreine . . . staan as bewys van ons voorouers se veerkragtigheid, vindingrykheid en aanpassing by omgewingsveranderinge.”

Volgens Mackenzie is die integriteit en egtheid van hierdie terreine noukeurig bewaar deur die ywerige pogings van internasionale multidissiplinêre spanne kundiges.

“Hul werk, gegrond op die hoogste standaarde van argeologiese praktyk, het verseker dat die bevindings ongeskonde bly en steeds nuwe insigte openbaar soos navorsing vorder.

“Die verbintenis tot die beskerming van hierdie erfenisterreine verseker die bewaring daarvan verder vir toekomstige geslagte.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article