Langebaan het Saterdag in Mamre ’n gulde geleentheid om die tuisspan te klop deur sy vingers laat glip. Hier begin Langebaan met ’n teenaanval wat tot die span se enigste drie gelei het. Foto: Murphy Roberts


Langebaan het Saterdag in Mamre met 16-18 teen die Groen Truie van Mamre vasgeval. Die besoekers was rustyd 6-3 voor, maar kon nie die uitklophou plant nie.

Langebaan het gesukkel om aan die gang te kom en het aan die einde die wedstryd op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee.

Beide spanne het meer as genoeg kanse geskep om punte te kry, maar gebrek aan afronding was bra skaars. Met die eerste kwart van die wedstryd, wat nie veel kon oplewer nie, het Mamre wel gelyk soos ’n span op ’n missie, maar daar het dadels van gekom.

Die tuisspan, wat ná byna die eerste kwart van die wedstryd met ’n strafskop voor was, het daarna moedig probeer. Met die tuisspan se dissipline wat lol, kon Langebaan twee strafskoppe in punte omskep om 6-3 voor te loop. Beide spanne het daarna verskeie kanse geskep, maar goeie verdediging het dit laat skipbreuk ly.

Mamre het vroeg in die tweede helfte die eerste drie van die wedstryd gedruk, waarna Langebaan met ’n verdoelde drie geantwoord het om ook weer voor te loop. Mamre het egter nie gaan lê nie en die wil om te wen het weer sterk na vore gekom toe die span met ’n verdoelde drie geantwoord het.

Met slegs twee punte verskil in die tuisspan se guns het beide elk ’n strafskop behaal. Langebaan het egter met sekondes oor weer ’n strafskop gekry en die oomblik was te groot vir die skopper wat gemis het en so ook die oorwinning aan die tuisspan verseker het.

Vredenburg se Burg Boys en Saldanha, wat tans die pas op die punteleer aangee, het ook goeie oorwinnings behaal om met een voet in die uitspeelrondes te staan.

St. Helenabaai (derde), wat die naweek Kenny Stadler se Groen Truie onthaal, sal ook nou die versneller dieper moet trap. Die Agterbaaiers het twee wedstryde minder as die voorloper, Saldanha, gespeel en hul lot is in hul eie hande.

Volledige uitslae:

Weskus

Saldanha 27-21 Paternoster;

Mamre 18-16 Langebaan;

Piketberg 30-36 St. Helena;

Vredenburg 33-28 Velddrif.

Swartland

Wesbank 24-36 Abbotsdale;

Darling 48-26 Moorreesburg;

Riebeeck United 19-38 Porterville;

Saron 32-30 Never Despairs;

Young Eagles 37-32 Villagers Wittewater.

Die naweek se program:

Langebaan t. Hopefield; Paternoster t. Vredenburg; St. Helenabaai t. Mamre; Young Hearts t. Piketberg en Velddrif t. Steenberg’s Cove.

Saldanha kry ’n blaaskans.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article