Hoor hier . . . kan maar ophou.

Jy begin al weer met daai streke van jou. Jy is al weer by dieselfde ding van laasjaar – jou bekoring met daai bont uitrusting van jou. En wraggies, jy sit deftig in alles waarmee jy jouself mee optooi. En ek meen maar, ’n mens is maar net ’n mens en ’n man is ook maar net ’n man. Ook maar mens, ook maar lus. Lus om jou weer te aanskou in al jou glorie. En daai aangename geur wat jy versprei – dit laat almal se koppe draai.

Ek het soos die vorige kere met groot afwagting uitgesien na jou koms, want jy het nog nooit teleurgestel nie. Almal praat van jou – hoe jy weer alles en almal se aandag getrek het van Springbok en Garies tot in die boesem van die Weskus. Jy weet net hoe om dit te doen om ons almal se knieë lam te maak! Saam met jou bring jy die sonskyn waarna almal nou al ’n geruime tyd uitsien. Jy is die kruiedoepa wat daai lang wintersaande in ’n oogwink laat verdwyn. Jy laat ’n man simpel dinge doen. Ek wat nie sommer myself op skou sit in ’n byderwetse kortbroek en T-hempie nie, is dan nou ook deel van die span wat voor in die koor wil lyf wys.

Ek het ook nou ewe skielik ’n huppel in my stap en draf, want die nuus het gou versprei dat jy in al jou prag en glorie hier is. Jy ruik en lyk aanloklik en ek kan net nie genoeg van jou kry nie. Jy is die een wat my sonder om te wik of te weeg daai lekkerdoen-ding laat vergeet en my in ’n oogwink na buite dryf op soek na jou – soos al die ander wat so mal is oor jou. Jy swaai jou heupies flink rond en betower ons met jou nuutste passies. Dis asof jy weet dat ons nie jou bekoring sal kan weerstaan nie, want ons kon nie meer ’n dag sonder jou warm glimlag en betowerende reuk klaarkom nie.

Nou is jy hier, maar jy weier om net myne te wees. Nee, jy wil meer as net een mens hê wat jy met jou bekoring kan verlei. Ons almal is soos zombies agter jou aan, al weet ons jy gaan ons net weer met ’n slap riem vang. Ons wil inpas by jou kleurskema en lieflike reuk, al weet ons wat die nagevolge gaan wees. Jy is volop in die Swartland en almal praat van jou. Jy maak jou verskyning ekstra sigbaar in die Boland dat selfs die koerante oor jou skryf – hulle skryf oor jou skoonheid en jou aangename reuk wat jy versprei oral waar jy gaan.

Dis net daai nadraai van jou wat ek eerlikwaar moet bieg ek niks van hou nie. Jy is die rede dat almal dink ek loop dik gesuip in die rondte. Jy is die rede dat ek hoes en proes en lam verlief voorkom, want ek was onder jou invloed. Ek wens jy was nie so oorvloedig met die uitdeel van jou skoonheid en lieflike geur nie, of ten minste wens ek dat die impak van jou skoonheid en geur nie so erg op my moet toesak nie. Is dit nie eerder om jou maar net van ’n afstand af te bewonder nie, want jou verleiding is nou maar eenmaal net te erg vir my. Jy is so mooi, maar tog ook so geniepsig. Jy hou van al die aandag, maar wil dan met ons almal maak soos jy wil, nes jy wil en wanneer dit jou pas. Nee, wees tog net ’n bietjie meer genadig dié jaar. Een ding moet jy net onthou, en dit is dat jy my na laasjaar slim gemaak het vir jou streke. Ek gaan jou geniet, maar ek gaan ekstra versigtig wees vir daai streep in jou waar jy ons almal lam in die boud los. Dis veral hier aan die einde van die dag dat jy my so ekstra goor laat voel.

Dis asof ek heeldag saam met jou gekuier het en dan los jy my skielik met ’n helse babelas. En dis asof jy ekstra lekkerkry as dit iewers deur die loop van my werksdag met my gebeur. Jy weet ek is baie besig. Jy weet van die spertye wat ek moet nakom, maar jy help my glad nie daarmee nie. Nou is ek die een wat elke keer moet voorsorg tref dat jy my nie nog ’n keer in die verleentheid plaas nie.

Ek waarsku jou, so pragtig jy ook al lyk hierdie jaar – gaan doen maar liefs jou ding by ’n paar ander manne, want ek is gewapen vir jou. Die winter is verby. Jy het jou winterjas uitgetrek en loop nou weer met jou kleurvolle rompie rond. En jou agenda is al weer klaar opgemaak – jy wil ons laat nies, hoes en proes soos jy wil.

Sinus en hooikoors, laat staan in liefdesnaam net jou streke hierdie jaar!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article