Die moord op die 19-jarige Keathan Zincke, ’n matriekleerder aan Roodezandt Sekondêre skool, het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap van sy tuisdorp, Porterville, en dié van Saron gestuur nadat hy die afgelope naweek met ’n mes noodlottig gewond is.
Medelye het kort nadat die tragiese nuus van Keathan se dood bekend geraak het, op sosiale media begin instroom.
Zincke is volgens ooggetuies vroeg Saterdagaand (5 Oktober) by ’n 21ste verjaardagpartytjie in Saron met ’n mes gesteek. Die voorval het omstreeks 18:47 in Enonstraat plaasgevind, het die provinsiale polisiewoordvoerder, Anelisiwe Manyana, bevestig.
Beamptes van die plaaslike polisie het volgens Manyana op ’n klagte wat met ’n mesaanval verband hou, gereageer. Met die polisie se aankoms op die toneel was Keathan reeds na die Porterville-hospitaal geneem, waar hy later aan sy wonde beswyk het.
Die nuus van sy dood het soos ’n veldbrand versprei. Volgens sy suster Carren-Lee Fourie was hy ’n mense-mens. “Hy was baie lief vir mense, en ook diere – veral vir sy honde,” voeg sy hartseer by.
Keathan, wat op 19 September sy matriekafskeid bygewoon het, sou eersdaags met sy matriekeindeksamen begin. “Ons het vir hom ’n rooster opgestel vir wanneer hy moet leer, eet en rus,” voeg Fourie by.
Keathan sou volgende jaar in ’n landbourigting studeer.
Volgens sy suster lê Keathan se skielike dood swaar op die harte van sy familie en vriende. “Dit is veral soggens moeilik vir my ouers.”
Keathan was Kevin en Gloria se enigste seun en ook die jongste van hul vier kinders.
“Ons drie susters is reeds uit die huis. Hulle het hom soggens wakker gemaak. Alles in daardie huis het om hom gedraai,” verduidelik sy. Volgens haar het Keathan, ’n danige kletsrymer wat lief was vir musiek, ook ’n spesiale plek vir sy vriende gekoester.
Roodezandt Sekondêr het Maandagoggend (7 Oktober) die skooldag met ’n saalbyeenkoms begin wat aan Keathan gewy is. Berading is intussen deur die skool aan leerders gebied. Kerse is ook daardie oggend deur die gemeenskap van Saron ter nagedagtenis aan Keathan aangesteek.
Keathan het op die dag van die voorval ná skool in Saron by vriende aangebly om die aand ’n 21ste verjaarsdagpartytjie by te woon. ’n Stryery het glo tussen die verdagte en nog ’n kuiergas ontaard terwyl Keathan en sy vriende toegekyk het. Hy het later ingetree om die bakleiery te stop, maar was onsuksesvol. Keathan is kort daarna met ’n mes in die rug gesteek.
“Saron het net stofstrate. Sy klere was skoon; sy skoene was skoon. Hy was nie deel van die bakleiery nie,” het Fourie bevestig.
Volgens Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die landelike en plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, het ’n skare mense by die hospitaal in Porterville byeengekom. “Mense het mekaar getroos. Ek kon sien dat Keathan baie mense se lewe aangeraak het,” het hy in ’n huldeblyk op sy sosialemediablad geskryf.
Monique Scheffers van Saron is geruk deur sy skielike dood. “Ek is steeds ge- skok. ’n Kuiergas in ons dorp wat al soos ’n Saronner kom raak het, is so vinnig en so wreed van sy familie weggeneem.” Sy het Keathan as ’n mooi en vriendelike jong seun met die mooiste glimlag beskryf.
Die verdagte het van die toneel af gevlug en is volgens ’n familielid Maandagoggend vroeg deur die plaaslike polisie aangekeer. Hy was nie aan Keathan bekend nie. Die datum van die verdagte se hofverskyning kon nie teen druktyd bevestig word nie.
’n Troosdiens vind Saterdag (12 Oktober) om 08:00 by sy ouerhuis by Leneesingel 4, Porterville, plaas, gevolg deur ’n diens om 10:00 by die Porterville Primêre Skool.
Keathan, wat reeds ’n oom was, laat sy ouers en drie susters agter.


