Die uitgeteerde trop honde van Middelpos, Saldanha, word onwettig op plaasgrond gelei om wildsbokkies te jag, maar baie verskeur snags boere se skape.


“Dit voel soos oorlog vir ons elke dag. Daar is nog nie mense dood nie, maar dit is erg. Traumaties.”

Só meen Werner Brand, wat sedert Maart vanjaar saam met nog skaapboere aan weerskante van die Jacobsbaai-pad al altesaam 60 skape ter waarde van tussen R150 000 en R180 000 verloor het. Brand boer al tien jaar met skape op verskeie van die plase.Rondloperhonde kom verskeur nog al die jare een of twee keer ’n jaar skape, maar nog nooit teen die tempo wat dit nou gebeur nie. “Hulle lek net die bloed van een skaap af en beweeg dan aan na die volgende skaap,” vertel ’n gefrustreerde Brand.Hy het al self 38 skape in dié tyd verloor.In die aande voor hy gaan slaap, sit hy skoene en klere reg en sorg dat die voertuie vol brandstof is, want as die skaap-alarms afgaan, moet hy binne tien minute by sy skape uitkom, anders is daar te veel skade.

En so is dit met al die boere in die omgewing wat met skape boer.Die probleem begin by die groepe mans van Middelpos wat die plaas- en myngrond met groot groepe honde onwettig betree, soms helder oordag, en die diere aanhits om wildsbokkies te jag. Die mans loop met kamoefleerdrag en tweerigtingradio’s rond.Volgens Brand bring die betreders gewoonlik ’n paar honde aan leibande saam, wat gelos word om aan te val as ’n steenbokkie of ’n springbokkie gewaar word, en dan volg die los honde dié voorloperhonde.“Van die honde kom dan die volgende aand met dieselfde paadjie terug as wat hulle saam met die mense geloop het, en kom byt die skape moer toe.”Hy verduidelik die honde kies gewoonlik die grootste ooi wat die stadigste hardloop. Die honde haal haar dan in en byt haar aan die boude en voorblaaie totdat sy krag verloor en sak. “As sy gaan lê, ruk hulle haar maag uit.” Brand

het al te veel keer gesien hoe die honde net die bloed oplek voordat hulle die volgende skaap begin jaag. “Hulle eet nie soos ’n rooikat ’n deel van die boud uit en los die dier nie; hulle lek letterlik net die bloed af.” Die verwoesting hou net op as die boere op die toneel opdaag. Teen daardie tyd is daar gewoonlik al ’n klomp skape uitmekaar geskeur.Brand moes een aand ses skape keelaf sny. Een se ribbes was aan die een kant oopgeskeur: “?’n Mens kon die organe sien; sien hoe sy nog asemhaal.”’n Ander keer het die honde net die skape se gesigte afgeskeur en hulle so gelos.Die honde byt gewoonlik so drie of vier skape vrek, en kom weer ná ’n paar dae terug om weer so drie of vier te byt. Die meeste skape wat op een aand verskeur is, was nege lammers en vier ooie.

Die boere kan nie die verskeurde skape slagpale toe neem nie, want die vleis is nie eetbaar nie.Bedags moet Brand kort-kort met ’n verkyker gaan seker maak die skape is nog veilig en al driehonderd skape moet elke aand kraal toe gejaag word.Tussen die boere het hulle al sowat agtien honde doodgeskiet, maar die honde bly net kom.Die boere het al die onwettige jagters met hul honde tot by Middelpos gevolg en gesien hoe hulle net buite dié buurt uitmekaar spat en een-een met kleiner groepies honde die buurt ingaan.“Almal huil oor die honde, maar hulle besef nie hoeveel skade aangerig word nie.”Die heinings om die plase word gereeld stukkend gesny en moet vervang word.

Op van die plase word sand en klei gemyn.Johan Nortier van Togryersvlei boer nie self met vee nie, maar het al verskeie keer alarm gemaak wanneer hy die groep mans op die plaasgrond sien inbeweeg om onwettig te jag. Hy sien hulle gereeld in ’n netwerk-formaat stap, veral in die laagliggende gedeeltes, sodat hulle nie maklik raakgesien kan word nie.“Hulle wéét mos dit is ’n ander man se grond. Wat anders kom doen jy as om te poach? Hulle is poachers. Dis doelbewuste, kriminele misdadigheid.”Nortier kry gereeld die spore van kruiwaens en trollies waarin die karkasse van bokkies teruggesleep word Middelpos toe. Hy en ander het selfs al van die mans vasgetrek en aan die polisie oorhandig, maar die gevoel is dat daar dadels van kom.

Die boere het sowat twee weke gelede self met bakkies die een dag agter die onwettige betreders aangery en foto’s geneem. Hulle het ook gesien hoe die mans met tweerigtingradio’s in konstante kommunikasie met mekaar is.Gevra oor wat hulle daar maak, is beweer dat hulle “na hul beeste soek”. Vir Brand is dit ’n traumatiese storie en ’n groot ergernis. Van die klein wildsbokkies waarvoor die omgewing bekend is, is daar weinig oor. Die honde verskeur ook skilpaaie, meerkatte en enige nagdiertjie wat uitkom. Volgens Brand jag die honde vroegoggend van so vieruur af. Teen die tyd wat die son opkom, is hulle al weer op pad terug Middelpos toe.Die Saldanha-polisie is al gevra om met die honde-eienaars te gaan praat, maar die onwettige jagtogte hou nie op nie. Wetstoepassers is ook al gevra om die honde-eienaars voor te lê wanneer hulle op die plase verjaag word, maar dit is nog nie gedoen nie.

Hoewel die polisie volgens die grondeienaars bewus is van die situasie, tree hulle nie op nie.Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, val die aangeleentheid nie binne die jurisdiksie van munisipale wetstoepassing nie.Die dierebeskermingsvereniging (DBV) kan ook net daadwerklik optree indien hulle ’n woonadres het en bewyse kry dat diere mishandel word of ondervoed is, sê inspekteur Louise van Zyl, die bestuurder van die Swartland- en Weskus DBV. Kapt.

Dirk Coetzee van die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Malmesbury sê as dié onwettige jagtogte en aanvalle op skape nie stopgesit word nie, kan dit aanleiding gee tot groter en ernstiger misdaad.Hy verduidelik dat enigiemand wat iemand anders se grond wil betree, eers toestemming by die grondeienaar moet verkry en dat jag met honde volgens verskeie natuurbewaringsordonnansies heeltemal verbode is.Intussen slaap Brand en die omgewing se boere met een oog oop, wagtend vir die volgende slagting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article