’n Bejaarde man van Darling, wat homself teen ’n huisrower wou verdedig, se vuurwapen is in ’n gestoei afgeneem.
Die vermeende huisrower, Randall Witbooi (42), het glo die 71-jarige man Donderdagoggend omstreeks 09:30 in sy huis in Van der Stelstraat, Darling, oorval.
Volgens kapt. Tania Helfrich, die Weskus-polisiewoordvoerder, het Witbooi die bejaarde na bewering met ’n mes gedreig, waarop die slagoffer na sy vuurwapen gegryp het.
’n Stoeiery het ontstaan en ’n skoot het afgegaan, waarna Witbooi die vuurwapen afgevat en die bejaarde daarmee gedreig het.
Hy het ook geld geëis voordat hy met die vuurwapen en R1 020 vort is.
Witbooi is later op videomateriaal uitgeken nadat die klagte by die Darling-polisie aangemeld is.
Die slagoffer het hom herken as ’n werker wat voorheen op die perseel geverf het. Witbooi is later die dag aangekeer – steeds met die vuurwapen en geld by hom.
Hy het ’n misdaadrekord en het op Vrydag 1 November in die Darling-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.



