Baie mense sal Liticia Cleophas, wat bekend was vir haar omgeehart en mense-mens-persoonlikheid, onthou en mis.
Díe geliefde 40-jarige Vredenburger, alom bekend as Tease, is Vrydag (22 November) vreedsaam in haar slaap aan natuurlike oorsake oorlede.
Volgens haar familie was Tease se reguit en eerlike aard kenmerkend van haar karakter en dit het haar geliefd gemaak onder diegene wat haar geken het. “Sy was ’n mensemens wat ander altyd gehelp het.”
Sy het langer as 20 jaar saam met haar man hul familie-onderneming, Cleopatra’s Kafee, in Louwville bedryf, waar almal haar goed geken het. Die familie meen sy sal gemis word vir haar lekker disse, joviale persoonlikheid en sin vir humor. Tease het haar suster Theresia van Schalkwyk verlede jaar aan die dood afgestaan. Weslander het verlede jaar daaroor berig (“Geliefde onderwyser sterf”, Weslander, Donderdag 18 Mei 2023).
“Liticia en Theresia was nie net susters nie, maar ook beste vriendinne. Voor Theresia se afsterwe het die twee van hulle byna elke dag saam deurgebring. Theresia se dood was vir haar ’n onbeskryflik moeilike tyd en verlies. Haar hartseer was duidelik, en die invloed van hierdie verlies het diep spore in haar lewe gelaat.”
Die lesse wat Tease gelaat het, sal altyd deur haar familie gekoester word. Sy het deur hul onderneming saam met haar man te bestuur, gewys hoe waardevol harde werk en samewerking is. “Haar toewyding het ons geleer om hard te werk vir ons drome terwyl ons die mense wat ons liefhet, ondersteun. Sy het ook geglo om die klein dinge in die lewe te waardeer. Of dit nou was om iemand te laat lag of tyd saam met familie deur te bring – sy het ons herinner om die skoonheid in alledaagse oomblikke raak te sien,” sê die familie.
Haar vriendin Maurichen Lambritz sê sy en Tease was vriende van skooldae af. “Sy is my mooiste vriendin met die hartlikste persoonlikheid. Sy was ’n eerlike en opregte mens en was altyd bereid om ander te help wanneer nodig. Sy laat ’n groot leemte in ons harte,” sê Lambritz.
Nog ’n vriendin, Beinadean Plaatjies, bedank Tease vir haar vriendskap, omgee en liefde. “My hart is baie seer, maar ons berus ons in God se werk. Ek sal ons mooi herinneringe koester. Jou stem is stil en jou plek is leeg; rus sag, my vriendin,” voeg sy by.
Tease laat haar man, Christopher Cleophas, en haar twee seuns, Matthew Cleophas en Zachary Cleophas, agter.
’n Begrafnisdiens word Saterdag (30 November) om 11:00 by die huis in Spreeustraat 39, Louwville, gehou. Dit word gevolg deur ’n kerkdiens om 12:00 in die St. Jude Catholic Church, Vredenburg.





