Hy het sy skoolloopbaan in 1986 in graad R by die Hoërskool Hopefield (HSH) begin en vandag is hy die waarnemende hoof.
Dit is sowaar ’n vol-sirkel-oomblik vir Jacques Rossouw (44), wat van Januarie die skoene as waarnemende skoolhoof vol staan.
Rossouw het in 1997 gematrikuleer en in 2000 as voltydse onderwyser begin, waar hy wiskunde vir gr. 10 tot 12 en rekenaarwetenskap vir gr. 10 tot 12 aangebied het. Hy het in ’n onderwysershuis grootgeword – iets wat deur sy are vloei.
“Ek het ook die voorreg gehad om by al twee ons vorige hoofde, Marius Hitge en Wehan Fourie, klas te hê. Ek het verskriklik baie by hulle geleer as kind en toe as kollega. Hulle twee het my gevorm en geskaaf om die mens te wees wat ek vandag is.”
Rossouw het 26 jaar ondervinding in die onderwys en het in 1999 sy BSc-graad (wiskunde en rekenaarwetenskap) deur Unisa verwerf. Hy het ook deur Unisa ’n B Sc (Hons), B Ed (Hons) en HOD verwerf. Hy is op die ouderdom van 26 as departementshoof (wiskunde) aangestel en in 2014 as adjunkhoof van die skool.
“As waarnemende skoolhoof sien ek regtig uit daarna om ’n positiewe verskil by die Hoërskool Hopefield te maak. Dit is vir my ’n voorreg om saam met die personeel, leerders en ouers te werk om die skool se sterk tradisies uit te bou en nuwe geleenthede te skep. Hierdie jaar is ekstra spesiaal met ons 170ste bestaansjaar, en ek wil verseker dat dit ’n tyd is waarop ons trots kan wees en saam kan geniet,” vertel hy.
Rossouw meen sy visie vir HSH is eenvoudig: “ ’n skool waar elke leerder en opvoeder floreer; ’n plek waar akademie, sport, kultuur en karakterontwikkeling ewe belangrik is en waar ons mekaar ondersteun, uitdagings saam aanpak en trots is op wie ons is.
“Hier bou ons nie net toekomsdrome nie – ons leef dit.”
Rossouw sê HSH het ’n sterk en gevestigde leierspan en onderwyserskorps wat die skool se tradisie van uitnemendheid met trots voortsit. “Aan ons leerders, ouers en opvoeders: HSH bly ’n skool waar ons die gewone dinge buitengewoon doen. Saam bou ons voort op ’n trotse nalatenskap en ’n blink toekoms.”





