Die top-matriekleerders by die prysuitdeling waar hulle deur Umoya Energy vereer is.Foto: Noluvu Ludidi


Om hul goeie prestasies te vier, het Umoya Energy die top-matrikulante in die Weskus Vrydag 31 Januarie met ’n prysuitdelingsgeleentheid vir uitnemendheid vereer.

Die twee beste matrikulante van sewe skole, waaronder die Hoërskool Diazville, die Hoërskool Vredenburg, New Vredenburg High, die Hoërskool Hopefield, die Hoërskool Louwville, Steynville Sekondêr en die Hoërskool Weston, het sertifikate ontvang.

Johanna Stoffels, bestuurslid en direkteur van Umoya Energy, sê die doel van die geleentheid is om erkenning te gee aan leerders wat in die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen uitgeblink het. Sy meen dit dien ook as aanmoediging aan dié wat kom om na groot hoogtes te streef. In sy toespraak het die gasspreker, Bertram Vraagom, die leerders aangemoedig en gesê niemand is dieselfde nie en niemand se pad in die lewe sal ooit dieselfde wees nie.

Hy het die jongelinge herinner dat die lewe hulle niks skuld nie en dat hulle hard moet werk om geluk te verdien. “Dit is die opwindendste reis waaraan jy ooit sal deelneem,” het hy bygevoeg.

Thinus Moolman van die Hoërskool Hopefield, wat met ’n 90,4%-slaagsyfer tweede in sy graad geëindig het, sê hy het die toekennings baie waardeer. “Dit is ’n baie goeie inisiatief om die matrieks van hierdie jaar te motiveer om nog harder te werk. Dit is baie goed dat hulle erkenning gee vir al ons ure agter die boeke.”

Isaiah Andreas van die Hoërskool Diazville het met 89,3% eerste in sy graad geëindig en meen die erkenning van Umoya vir die top-Weskusmatrieks was vir hom iets besonders. “Dit het my herinner dat al die harde werk, al die laat nagte se studeer en al die opofferings nie ongesiens was nie. Dit het my ’n gevoel gegee dat alles wat ek ingesit het, waardeer word. Ek was opgewonde, maar ook dankbaar, omdat ek besef het ek is nie alleen op my reis nie – daar is mense wat jou ondersteun en in jou glo, en dit maak ’n groot verskil,” het Isaiah bygevoeg.

Die leerders het elk ’n skootrekenaar, ’n skootrekenaarsak, skryfbehoefte-stel en ’n sertifikaat ontvang.. Twee van die 14 toppresteerders, Marnia Opperman van die Hoërskool Hopefield en Chelsea Collair van die Hoërskool Vredenburg, kon nie die geleentheid bywoon nie omdat hulle reeds by tersiêre instellings op kampus was.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article