UNI Jeugteater het hierdie jaar ’n mylpaal bereik deur vir die eerste keer aan die departement van sport, kuns en kultuur (DCAS) se Dramafees deel te neem.
Die fees het op Saterdag 25 Januarie in die Baxter-teater in die Kaap plaasgevind. Hierdie prestasie is nie net vir die groep besonders nie, maar ook vir die Weskus-streek, wat tot 2024 vir tien jaar geen deelname aan die fees gehad het nie.
Die groep, onder leiding van Chantal Booyse, die stigter en uitvoerende hoof van UNI Jeugteater, het ’n kragtige produksie genaamd Oppi Drimpel op die verhoog gebring.
Booyse het vir die eerste keer self die teks geskryf, die produksie saamgestel en as kreatiewe regisseur opgetree – ’n monumentale prestasie vir enige teatermaker.
Die produksie vertel die inspirerende verhaal van Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, wat deur sy persoonlike reis binne die 30 jaar van demokrasie die jong spelers gemotiveer het en hulle ook finansieel ondersteun het.
Booyse sê sy storie het nie net op die verhoog geleef nie, maar ook in die harte van die spelers en die gemeenskap.
“Die sukses van UNI Jeugteater en Oppi Drimpel sou nie sonder die harde werk van DCAS en die toewyding van Moeniel Jacobs, wat hierdie program met passie dryf, moontlik gewees het nie. Sy ondersteuning en aanmoediging vir jong talent is ’n bewys dat die toekoms van teater in die Wes-Kaap lewendig en vol potensiaal is,” voeg Booyse by.
Wat vir die groep ’n hoogtepunt was, is die feit dat Oppi Drimpel benoem is as een van die Top-3- beste regieproduksies van die fees.
“ ’n Ongelooflike prestasie vir ’n groep wat sy buiging maak. Met so ’n sterk begin hoop UNI Jeugteater en ander jong kunstenaars dat die DCAS-dramafees ’n blywende platform vir jeugontwikkeling sal bly, die kunste inspireer, bou en verbind – en met ondersteuning en toewyding sal dit nooit uitsterf nie,” meen Booyse.
Booyse bedank hul mentor Lauren Snyders asook die UNI-sterre wat die produksie met soveel passie opgevoer het. Sy bedank ook die Sustaining Theatre and Dance Foundation vir hul finansiële bydrae asook Van Rooy wat hul kernfinansierder is.





