Wyle Adele Oosterhuis sal onthou word vir haar lewenslus en positiewe gesindheid.


Die gemeenskap van Saldanha is in rou gedompel ná die dood van Adele Oosterhuis (41).

Adele is op Saterdag 1 Februarie oorlede ná ’n lang stryd teen metastatiese borskanker. Haar man, Jaun Oosterhuis, beskryf sy vrou as ’n besonderse mens – “enig in haar soort”.

“Van mode, klas en styl kon niemand haar iets vertel nie. Sy was die liefde self; by elke sportbyeenkoms was sy langs die veld en by elke kultuur- en akademiese geleentheid was sy die kinders se grootste ondersteuner. Sy was diep lief vir almal.”

Met die nuus van Adele se diagnose vertel Jaun dat hulle al twee gereed was om dit te bestry en te oorwin. “Die afgelope vier jaar was daar baie “downs”, maar haar gesindheid was dat sy dit gaan oorwin. Sy het elke dag opgestaan, haar mooi aangetrek en die lewe aangepak asof sy die gesondste mens onder die son is.”

Jaun meen hy gaan alles van sy vrou mis. Hy deel dat haar stokperdjie mode en binneversiering in die huis was en dat hulle as gesin lief was om tyd saam deur te bring.

Adele se jonger broer, Leon Killian, stem saam dat sy ’n dinamiese mens was, altyd positief, en iemand wat net die beste vir almal wou gehad het. “Sy was vir niks liewer as haar drie kinders nie, sy het vir hulle alles gedoen en was só trots op hulle,” vertel Leon.

Wat hom sal bybly, is hul twee se alleen-oomblikke; as beste vriende kon hulle enigiets vir mekaar vertel. “Sy het my baie beskerm, my altyd voor haarself gesit. Ons het mekaar as kinders afgeknou, maar sy sou altyd haar boetie help,” vertel hy.

Adele laat benewens haar man en broer ook haar drie kinders – Lian, Sion en Elah – agter.. ’n Diens ten herinnering aan Adele is Sondag (9 Februarie) in die Beacon-kerk in Langebaan gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article