Vir die inwoners van die luukse Shelley Point in St Helenabaai doen die afgebrande strukture van die hotel in die hart van hul landgoed afbreuk aan die estetika van die gebied. Hulle hoop dit sal so gou as moontlik verwyder of herstel word.
Die eertydse spoghotel en spa met ’n rietdak is in 2008 voltooi en het benewens 88 suites ook drie restaurante, onderdakparkering, ’n skoonheidsalon en spa, gimnasium, konferensielokale, twee swembaddens en twee tennisbane gehad. Dit het op Dinsdag 2 Januarie 2024 omstreeks 06:00 afgebrand.
Aldo Fourie, Shelley Point-landgoedbestuurder, het bevestig dat die eienaar van die hotelperseel, Gert Joubert, op verlede jaar se jaarvergadering van die huiseienaarsvereniging wel ’n konsepvoorstel vir ’n woonstelblok aan die lede voorgelê het.
“Die konsepvoorstel is breedvoerig bespreek en terugverwys na die ontwikkelaar vir heroorweging in die lig van die reëls van toepassing op die Shelley Point-landgoed,” sê Fourie.
Volgens hom was onder meer die ontwerp van die woonstelle en die nuwe voorgestelde grondgebruik punte van ontevredenheid.
Die huiseienaarsvereniging het nog nie ’n alternatiewe voorstel ontvang nie.
Die besluit oor wat gebou moet word, berus by Joubert, binne die raamwerk van die huiseienaarsvereniging se regulasies en wetgewing van die Saldanhabaai-munisipaliteit.
Fourie verduidelik dat die hotel ’n aparte entiteit van die huiseienaarsvereniging was, maar dat die afbrand daarvan steeds ’n gevoelige verlies vir die landgoed én die plaaslike ekonomie is.
“Die restaurante en spa was geriewe wat vir Shelley Point-huiseienaars beskikbaar was. Hulle het nou nie meer daardie opsie nie.”
Hy verwys egter daarna dat daar sedert die brand ander plaaslike opsies beskikbaar geraak het, in en om die landgoed. “Die gholfbaan het nie aan die hotel behoort nie en is nie deur die brand beskadig nie. Die gholfbaan se klubhuis het egter afgebrand, maar dit het nie die speel van gholf verhoed nie.”
Hy verwys ook na die nuwe gemeenskapsentrum wat verlede jaar op die landgoed voltooi is. “Dit vervul in ’n mate die rol wat die hotel se geriewe gespeel het.”
Joubert, vir wie die hotel ’n “hartsaak” was, wou nog nie in die media kommentaar oor die toekomsplanne van die afgebrande hotel lewer nie.





