Sy gesin was sy eerste gedagte toe Jermaine Don (40) die slegte nuus oor sy gesondheid hoor.

Fase 5- kroniese niersiekte is Donderdag 27 Desember 2024 by Jermaine gediagnoseer – ’n diagnose wat hy glad nie verwag het nie.

“Dit was skokkende nuus; ek was dan nog piekfyn en skielik speel my lewe soos ’n rolprent voor my af,” vertel Jermaine.

Al wat deur sy kop gegaan het, is dat hy nie sy vrou en kinders kan verlaat nie, veral met sy babaseuntjie wat nou eers twee maande oud is. “Ek was baie emosioneel en skielik kon ek nie slaap nie; ek kon nie eet nie; ek was ’n senuwee-wrak en bitter bekommerd.

Ek het binne twee dae só agteruitgegaan dat ek my huis moes verlaat en my vrou en kinders vat om vir ’n tyd by my ouers te gaan bly net sodat ek addisionele ondersteuning kon kry, want dit het gevoel asof die aarde my enige oomblik gaan insluk.”

Dokters het vir Jermaine twee opsies gegee – ’n nieroorplanting of dialise met Groote Schuur-hospitaal wat die besluit moes neem of hy vir ’n nieroorplanting of dialise kwalifiseer.

Volgens Jermaine was dit ’n harde slag vir hom om te hoor dat hy nie vir ’n nieroorplanting of dialise deur die staat kwalifiseer nie.

As gerehabiliteerde dwelmgebruiker, wat nou drie jaar skoon is, kwalifiseer hy nie vir dialise of ’n nieroorplanting ingevolge die staat se voorvereistes nie. Hy is ook nie lid van ’n siekefonds nie en moet dus nou self opdok vir die dialise – geld wat “bo sy vuurmaakplek is”, soos hy dit beskryf.

Die nuus van Jermaine se niersiekte het deur die gemeenskap beweeg en individue het besluit om in te spring met geldinsamelings om hom te help.

“Ek is oneindig dankbaar teenoor diegene in ons gemeenskap wat uitreik na ons om ons deur hierdie hele proses te help en dat hulle bereid is om ’n pad saam met my en my familie te loop, asook vir almal wat aan my dink en ook die Hemelse Vader wat my nog dra,” sê Jermaine.

Sy vrou, Trisha, sê sy het eenvoudig geweier om die diagnose te glo. Wat vir haar die moeilikste is om te verwerk, is dat haar man deur hierdie siekte moet gaan asof dit ’n doodsvonnis is en sy magteloos staan en net kan bid dat hy beter word en die nodige hulp kry.

“My man is ons steunpilaar; ons het hom nog so nodig, veral met die grootmaak van ons ses kinders. Hierdie behandeling sal beteken dat hy elke mylpaal in hul lewe sal sien en saam met my ons kinders in vrees van die Here kan grootmaak.” ’n Sangmiddag sal Sondag 9 Maart om 16:00 by die Louwville Civic plaasvind. Toegang beloop R30 vir volwassenes en R20 vir kinders.

Die gaskunstenaar vir die dag is Liezel Damon met die Noyana Worship Team en ander. Kontak Claudia de Koker by 073 521 3914 of pastoor Liezel Damon by 073 676 1111 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article