Afgevaardigdes van jeugleierskapstrukture in die ses distrikte van die Wes-Kaap het die afgelope Saterdag (28 Maart) die 2026- Wes-Kaapse Jeugparlement bygewoon.
JJ Voster, ‘n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Vredenburg, het die Weskus teenwoordig.
Volgens Voster was dit ‘n inspirerende en bemagtigende ervaring. Die geleentheid het hom die kans gegun om saam met jong leiers krities te dink oor die daaglikse uitdagings wat die jeug in die gesig staar, en gesonde oplossings te formuleer, wat ‘n tasbare verskil kan maak.
“Persoonlik het dit vir my beteken dat my stem gehoor is én ook dié van my mederaadslede in die Saldanhabaai- en Weskus-Streek. Ons gesamentlike insette oor sleutelkwessies soos jeugontwikkeling, gemeenskapsveiligheid en ekonomiese geleenthede het ‘n betekenisvolle uitwerking gehad. Dit het my uiteindelik gemotiveer om ‘n proaktiewe rol in my gemeenskap te vervul om probleme te identifiseer en aktief tot oplossings by te dra,” vertel Voster.
Een van die hoofkwessies wat hy aangeraak het, was die dringende krisis dat leerders op laer graadvlak nie kan lees nie. Voster meen lees is nie bloot ‘n vak nie, maar die fondasie van alle leerprosesse. “Iemand wat nie kan lees nie, kan nie op akademiese vlak vorder of mededingend wees nie. Dit kan tot ‘n ekonomiese en sosiale ramp lei.”
Wanneer dit kom by dit wat die jeug raak, wil Voster graag sien hoe meer gefokus word op toeganklike vaardigheidsontwikkeling, werkskepping en entrepreneurskapsgeleenthede vir jongmense.
“Verder is dit belangrik dat veilige ruimtes geskep word waar jongmense hulself kan ontwikkel, nie net akademies nie, maar ook persoonlik.
“Verbeterde samewerking tussen die regering, sakeondernemings en gemeenskappe kan ‘n groot rol speel om volhoubare verandering mee te bring.”
Dié jongman glo die jeugparlement kan ‘n werklike verskil maak.
“Die Wes-Kaapse Jeugparlement volg ‘n gestruktureerde proses waar kwessies en resolusies ná elke sitting formeel vasgelê, nagegaan en aan die provinsiale parlement van die Wes-Kaap voorgelê word. Aanvaarde aanbevelings word na verwante komitees en departemente vir verdere optrede en implementering verwys, terwyl terugvoer en vordering deurlopend met jeugstrukture gedeel word.”
Voster herinner die jeug dat hul stemme vandag die grondslag vir môre se leierskap bou. “Bly betrokke, fokus op jul doelwitte, en wees die verandering wat julle wil sien.”





