Die Weskus Kuier-Konsert is ‘n gesinsvriendelike fees wat ‘n geliefde jaarlikse gebeurtenis in Laaiplek, Velddrif, geword het.
Nou in sy vyfde jaar groei die fees steeds in bywoning en impak, en bring mense bymekaar om musiek, gemeenskap en die unieke gees van die Weskus te vier.
Vanjaar se konsert wat op 7 Maart plaasvind, spog met bekendes soos Snotkop, Jak de Priester, Desmond Wells en die talentvolle, plaaslike kunstenaars Gerrie West, Bokkom & V’tsek, en Ek’s Nadia.
Nog hoogtepunte is die Fear Factor-kompetisie waar Ougat Bouers-kontantpryse aanbied aan die 1ste-, 2de- en 3de plek-wenners, onderskeidelik R2 000, R1 000 en R500.
Die kindervermaak bars weer uit sy nate met pret en plesier, en kinders van alle ouderdomme kan kom deel in die lekkerkry.
Volgens Steyn Fourie, stigter, is ‘n sleutelfokus van die Weskus-Kuierkonsert die positiewe impak wat dit op die hele dorp het. “Hoe meer besoekers ons lok, hoe meer trek alle plaaslike ondernemings voordeel daaruit, van akkommodasie en restaurante tot winkels en diensverskaffers.
“Die fees skep ‘n lewendige atmosfeer en gee ‘n betekenisvolle ekonomiese hupstoot aan die omgewing as geheel.”
Elke jaar sluit die fees ook ‘n gemeenskapsopheffingsprojek in. Individue of gesinne in nood word in die gemeenskap geïdentifiseer, waarna geld ingesamel word om hulle met spesifieke behoeftes te ondersteun.
“Vanjaar bederf ons graag die bejaardes met skootkombersies, mussies, serpe, ens. Om terug te gee, lê ons na aan die hart, en hierdie inisiatief stel die fees in staat om werklik ‘n verskil te maak, bo en behalwe die vermaak,” voeg Fourie by.
Daar sal ook ‘n groot strandpartytjie by Draaihoek Lodge, vir 10 mense, opgeveil word.
“Ons bied skaduwee, veilige parkeerplek en goeie herinneringe aan om seker te maak almal geniet elke oomblik van die dag.” Hekke open om 15:00, so kom kuier saam, ondersteun die stalletjies en smul lekker by al die kosverkopers.
Kaartjies is aanlyn te koop by weskustickets.co.za of by die Laaiplek Spar, sowel as die dag van die konsert by die hek.
Kaartjiepryse: Volwassenes R149, hoërskoolkinders R79, laerskoolkinders R49 en pensioenarisse R99. Voorskoolse kinders en almal ouer as 90 jaar kan die konsert gratis bywoon.





