Die 13de jaarlikse Weskus-kanowedvaart het die afgelope naweek weer eens gewys waarom dit as een van die groot sporthoogtepunte aan die Weskus beskou word.
Met perfekte weersomstandighede, groot gemeenskapsbetrokkenheid en deelname van plaaslike én internasionale roeiers, was die byeenkoms ‘n reuse-sukses.
Die wedvaart is moontlik gemaak deur Appliance World as hoofborg, saam met verskeie ander plaaslike borge wat hul steun agter die geleentheid gesit het. Meer as 200 roeiers het deelgeneem, insluitend professionele roeiers, Weskus- sosiale roeiers en jong talent van Stellenbosch en die Paarl wat deel van jeugontwikkelingspanne uitmaak.
Hierdie ontwikkelingspanne ontvang drie keer per week opleiding by die Weskus-kanoklub, wat onder die vaandel van die Weskus-kano-unie funksioneer.
Benewens hul duidelike liefde vir die sport, het die jong roeiers ook goed gevaar en gewys dat die toekoms van kano op die Weskus in bekwame hande is.
Die wedvaart het ook ‘n internasionale geur gehad, met vakansiegangers uit onder andere België, Nederland en Australië wat die geleentheid gebruik het om deel te neem en hul roei-vernuf te wys.
Veiligheid was ‘n prioriteit, met polisie-duikers en mediese personeel wat deur die dag op hul pos was om toe te sien dat alles glad en veilig verloop.
Deelnemers kon kies tussen 5 km-, 10 km- en 20 km-roetes, terwyl die stand up paddle boarders (SUP’s) tussen ‘n 5 km- en 16 km-roete kon kies.
Vir professionele roeiers het die wedloop as ‘n nasionale kwalifiserende wedvaart getel. Die 20 km-roeiers het om 10:00 weggespring, deur die Port Owen Marina gedraai en weer onder die Carinusbrug deurgeroei. Daarna het die 16 km SUP’s weggespring, gevolg deur die 10 km- en 5 km-afdelings.
Die jaarlikse byeenkoms bly ‘n sportfees wat oud en jonk lok en ‘n vaste plek op die Weskus se sportkalender inneem. Dit bring sportliefhebbers bymekaar, versterk gemeenskapsbande en bevorder watersport in die streek.
Uitslae was as volg:
5 km-SUP’s:
1ste – Donald Grant
2de – Anel Koegelenberg
3de – Hentie Koegelenberg
16 km-SUP’s:
1ste – Ernest van Riet
2de – Nick Louw
3de – Craig Girdlestone
5 km-kano:
1ste – Pieter Eksteen
2de – Luke Pomeroy-Ward
3de – Katie Dyason
10 km-kano:
1ste – Leewayne Philander
2de – Ozzy Stead
3de – Richard Allen
20 km-kano:
1ste – Jared Shrimpton
2de – Anders Hart
3de – Ian Trautmann
Die sukses van vanjaar se wedvaart bevestig weer eens die Weskus se reputasie as ‘n streek waar sport, gemeenskap en buitelug-aktiwiteite hand aan hand stap.
Volledige uitslae en fotos is op die “West Coast Canoe Club” Facebook-blad.









