Vincent Jnr. Roberts in aksie op die rugbyveld.

Vincent Jnr. Roberts (18), ‘n inwoner van Stompneusbaai, het die geleent- heid van ‘n leeftyd gekry. Dié jong rugbyspeler vertrek volgende Donderdag (12 Februarie) na Japan, waar hy gekies is om vir vier jaar sy droom op die rugbyveld by die Universiteit van Tokai uit te leef.

Volgens Roberts neem hy hierdie geleentheid met dankbaarheid aan en wil hy net die beste daarvan maak.

Sy liefde vir rugby het op ‘n jong ouderdom begin en mettertyd tot ‘n passie ontwikkel. Roberts het die geleentheid gehad om vir die Griffons te speel, by die Lions Akademie-span aan te sluit en het ook in die Cravenweek gespeel.

“Verlede jaar het ek in die Cravenweek gespeel. Hoewel dinge nie uitgewerk het soos ek dit sou wou hê nie, het God steeds ‘n plan vir my gehad. Ek het huis toe gegaan sonder SA Skole en sonder ‘n kontrak. Dinge het ‘n bietjie swaar gevoel, maar ek het steeds in die Hemelse Vader geglo,” sê hy.

Roberts sien daarna uit om die Japannese kultuur te leer ken en die land te verken. “Ek sal wel die kennis wat ek daar opdoen terugbring Suid-Afrika toe . . . en seker my vrou ook,” sê hy met ‘n glimlag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article