Die nasionale Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het onlangs tydens ‘n ministeriële besoek aan Elandsbaai saam met die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, verskeie infrastruktuurgeleenthede vir die gebied uitgelig, wat beduidende voordele vir plaaslike inwoners inhou. Dié besoek op 10 Januarie was die eerste besoek deur ‘n nasionale minister aan Elandsbaai in 28 jaar.
Simmers het terugvoer gegee oor die vordering wat gemaak is om 313 volhoubare behuisingsgeleenthede vir die Elandsbaai-gemeenskap te ontsluit – na aanleiding van gesprekke met inwoners en ander belanghebbendes.
Volgens Simmers is Elandsbaai en sy mense belangrik en bly die provinsiale regering verbind tot samewerking met die munisipaliteit, die gemeenskap en alle rolspelers om behuisingsgeleenthede te skep wat waardigheid herstel en sekerheid vir gesinne bied.
Hy het beklemtoon dat projekte van hierdie aard werksgeleenthede skep en tot ordentlike behuising vir Wes-Kaapse inwoners bydra.
Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het gedurende die 2024-’25-boekjaar ‘n projek goedgekeur en bykans R560 000 beskikbaar gestel om die beplanningsfase van ‘n voorgestelde behuisingsontwikkeling in Elandsbaai te ondersteun.
Die geld is gebruik om te verseker dat die projek deeglik voorberei en vir implementering gereed gemaak word.
Later in die jaar is ‘n projekleefbaarheidsverslag ontvang, wat voorsiening maak vir 313 residensiële geleenthede. Die verslag ondergaan tans ‘n tegniese beoordeling.
Meer as R1,4 miljoen is vir die 2026-’27-boekjaar begroot om die implementeringsgereedheidsverslag te finaliseer.
Indien alle prosesse suksesvol afgehandel word, kan konstruksie moontlik in die 2027-’28-boekjaar begin en sal dit ‘n belangrike stap in die bou van volhoubare gemeenskappe in die streek wees.





